Vir dié drie 4x4-reise kort jy hare op jou tande – en BFGOODRICH-bande!

akkreditasie
BFGoodrich
BFGoodrich
Geborg: Is die Skedelkus, Van Zylspas en die Pad na die Hel nog op jou 4x4-droomlys? As jy dit wil aanpak, sit eers die regte bande op jou 4x4. Hier is alles wat jy moet weet.

Die gesoute 4x4-ryers is dit eens: Lank voordat jy duisende rande aan hoër vering, ’n indrukwekkende wenas of ’n bakgat-bosbreker bestee, koop jy vir jou 4x4 die regte tekkies. Jou bande is die enigste ding wat jou (en jou familie) met die padoppervlak verbind. Dit is dus die een plek waar jy nie jou sente moet omdraai en die goedkoopste moet koop nie. 

BFGOODRICH het oor die jare ’n reputasie as dié band onder 4x4-ryers opgebou, maar watter een is die regte band vir jou? Hier is drie lekker plekke om te ry en die regte bande om daarvoor te gebruik.

1. Van Zylspas

Van Zylspas
Van Zylspas

Dié pas in Kaokoland, Namibië, is onder die toptien van alle 4x4-bestemmings in Afrika. Die ongeteerde pas is na Barend Johannes (Ben) van Zyl genoem, destyds ’n kommissaris in die streek. Ben het op Opuwo gewoon, maar moes dikwels na die Marienfluss ry vir werk. Deur ’n kortpad vanaf Otjihende te bou, kon hy twee reisdae uitskakel.

Die pas op die hang na Otjihende is in 1965 uitgelê op paaie wat deur olifante en wild uitgetrap is en deur sowat twintig werkers met pikke, grawe en koevoete gebou. En boonop in net vier maande! Tot vandag toe nog plaas 4x4-bestuurders ’n klip aan die voet van die pas ter herinnering aan hierdie pioniers.

Van Zyls is een van die moeilikste dele in Kaokoland. As jy nie heeltemal hiervoor kans sien nie, ry dalk liewer die Otjihaaspas (Opuwo > Etanga > Otjihaaspas > Rooidrom > Marienfluss). Dit sal ’n dag langer neem, maar is net so mooi.

Wenke vir Van Zylspas

• Onthou dat jy die pas nét van oos na wes moet ry. As jy dit andersom ry, beskadig jy die pas en stel jy jou lewe in gevaar. 

• Die hele pas is 10 km lank. Die moeilikste dele is waar die pas net na die waterpomp by Otjihende begin, ’n paar opdraandes hier en daar, en dan die laaste 2 km van die uitkykpunt af. 

• Moenie haastig wees nie. As jy ’n voertuig ry wat nie outomaties is nie, skakel oor na laestrek by die afdraandes, druk die koppelaar in en gebruik die rem om van klip tot klip “te val”. Vergeet van die petrolpedaal

• Probeer die vorige aand die voertuig so pak dat alle swaar voorwerpe binne die voertuig is en nie op die dakrak nie. Maak die brandstoftenk vol uit die jerrykanne om ekstra gewig by die laagtepunt van die voertuig te kry. Jy kan jou voertuig weer regpak as jy onder in die vallei kom. Maak alle los artikels vas met kabels. 

2. Skedelkus

Skedelkus
Skedelkus
Skedelkus
Skedelkus

Dis ’n cliché dat die lewe oor die reis gaan, en nie net oor die eindbestemming nie, maar die Skedelkus is ’n uitsondering. Hier gaan dit oor die reis én die eindbestemming, want albei is onvergeetlik. 

Dié strook, bo by die Kuneneriviermonding in Namibië, bied alles waarvan 4x4-ryers droom: Dis ver van die samelewing, dit verg ’n bietjie murg in jou pype, en jy gaan die allermooiste natuurskoon beleef.

Die Kunene is die noordelike grens van Namibië sowel as die Skedelkus- Nasionale Park. Enigiemand kan op enige dag die suide van die park besoek, maar die noordelike kusstrook tot by die riviermond is nie oop vir die publiek nie. Hiervoor moet jy saam met ’n toergids reis wat ’n konsessie vir die gebied het en die getalle besoekers word beperk.

Die park se suidelike hek is by die Ugabriviermonding 190 km noord van Swakopmund. Jy kan die stuk van hier tot by Terracebaai binne ’n dag ry. Van Kaap Kruis af is dit 75 km tot by die Ugabrivier, waar jy die hekke van die Skedelkus- Nasionale Park kry. Jy kan dit nie miskyk nie – daar is ’n kopbeen op elke hek. Die Portugese het destyds na hierdie streek as die “Poorte na die Hel” verwys.

Dis van die hek af 160 km goeie grondpad tot by Terracebaai – die plek waar “gewone besoekers” moet omdraai. Hoe verder noord jy ry, hoe groter word die sandduine. Torrabaai is die laaste plek waar jy brandstof kan ingooi. By Möwebaai, ’n buitepos en ’n veldwagterstasie 80 km noord van Terracebaai, kan jy jou banddruk verlaag (indien nodig) terwyl die gids die papierwerk afhandel.

Jou gids sal die konvooi so ver moontlik strand langs lei, maar soms word jy gedwing om ’n tweespoorpad bo die hoogwatermerk te gebruik. Jy sal honderde skeepswrakke langs die roete sien! Dis werklik ’n stukkie aarde wat geen genade het nie. Die laaste 200 km is net verlate strande.

Dit is moontlik om van die Kunenemond af deur te hou Kaokoland toe. 

Skedelkus
Skedelkus

Wenke vir die Skedelkus

• Jy kan slegs met ’n konsessie anderkant Terracebaai ry. 

• Jy het beslis ’n 4x4 nodig vir hierdie roete met ’n goeie grondvryhoogte en agterste ewenaarslot. 

• Jy sal moet brandstof saamry. Vir dieselvoertuie sowat 220 liter en sowat 260 liter vir petrolvoertuie. Onthou, dis net ’n raming.

• Groot dele van hierdie kus is ’n paradys vir hengelaars. Pak die visvanggereedskap in. Besoekers het spesiale toestemming om vis te vang by die Kunenemond.

3. Die Pad na die Hel

BFGoodrich
Die Pad na die Hel

As jy enige artikel oor die uitdagdenste 4x4-roetes in Suid-Afrika lees, is die kans goed dat jy op die Pad na die Hel sal afkom. Dié stukkie hoërgraad-4x4-rywerk draai af van die Namakwa-ekoroete, en moenie verwar word met die veel makker Die Hel in Gamkaskloof in die Swartberge nie. Vir die  Swartbergweergawe het jy net ’n Polo en ’n sluk rescue remedy nodig. Hiérdie hel se afdraai sit 13 km anderkant die Kamgab-afdraai (S28.89964 E17.90995).

Die Pad na Hel is ’n opsionele deel wat jy kan bylas aan die Namakwa-ekoroete, op 600 km een van die langste 4x4-roetes in Suid-Afrika. Dit begin by Pella en loop tot by Alexanderbaai. Die Hel-pad lê in die omgewing van Steinkopf.

Die Pad na die Hel is “net” 4 km lank, maar hier is geen ontsnaproetes nie en jy kan nie halfpad omdraai nie. As jy eers daar af is, moet jy weer daar uit. Moenie dit op jou eie waag nie en berei goed voor – niemand gaan dik van die lag wees as hulle jou dáár moet kom uithelp nie. Jy kan dit ook beslis nie in ’n gewone voertuig of bakkie of met enigiets op die sleephaak waag nie.

Wenke vir die Pad na die Hel

  • Betroubare bande, wat ekstra versterking in die sywande het, soos BFGOODRICH se All-terrain- of Mud Terrain-bande, gaan hier sy gewig in goud werd wees. As jy kan, neem ’n tweede spaarband saam.
  • Pak alles in wat jy mag nodig kry: ’n bandhersteltoerusting, kompressor en beslis ekstra water. 
  • Jy moet wild kamp onder in Die Hel, neem dus ook al jou kamp- en braaitoerusting saam. 
Skedelkus
Skedelkus

Die regte band vir die regte reis. Hoe kies jy?

Jy sal nie een van hierdie drie roetes met die standaardbande kan aanpak waarmee jy jou 4x4 aangeskaf het nie. Maar moet jy jou standaardbande vervang met veelterreinbande, of modderbande, en watter bande sou op hierdie drie roetes die beste gewerk het? In die sandduine van die Skedelkus en op die klipperige toestande van die Hel en Van Zylspas sou jy dankbaar gewees het vir die BFGOODRICH Mud Terrain T / A KM3s. Die bande het ’n aggressiewe loopvlakpatroon. Boonop het dit Krawler-TEK-tegnologie, wat ekstra weerstand bied teen bandskade. 

Die BFGOODRICH Krawler T/A KX en die Mud-Terrain T/A KM2 se aggressiewe loopvlakpatroon is albei verleng tot by die sywand, wat beteken jy het ook daardie ekstra greep wanneer jy jou banddruk verlaag in die sand. 

Die lineêre Flex-Zone, wat oor die hele loopvlak strek, gee die band die buigsaamheid om as’t ware om die hindernis te vou. Die loopvlak is ook “selfskoonmakend”, wat beteken klippe en modder word uit die loopvlakpatroon geskiet voordat dit die band beskadig.

Moet jy dus noodwendig die Mud-Terrain kies? As jy ’n 4x4-ryding het wat jy vir feitlik net veldrytoestande gebruik (80% in die veld, 20% op teerpad), kan jy modderbande laat opsit. Modderbande slyteer egter vinniger op teerpaaie weens die aggressiewe loopvlakpatroon.

Die ‘all rounder’ van die 4x4-wêreld

As jy 50% van die tyd in die veld is, en 50% op teerpaaie, mik liewer vir veelterreinbande, soos die  BFGOODRICH All-Terrain T/A KO2. Die KO2 is ’n legende onder veldryers! Dit gebruik CoreGard-tegnologie en die sywand is versterk teen splyting en kneusing. Die verlengde skouer verminder die kans op sywandskade. 

Die KO2 het ’n nuwe loopvlakontwerp en rubbersamestelling wat dit twee keer langer op ’n grondpad en 15% langer op ’n teerpad laat hou as die vorige KO. Die loopvlakrubber is spesiaal gemeng om die moontlikheid van afsplintering en skeuring op grondpaaie te verminder. ’n Nuwe voetspoorvorm en ’n ineengeskakelde loopvlakontwerp sorg dat die band eweredig afloop. Spesiale klipuitskieters druk voorwerpe uit die bandgleuwe uit wat die kans verminder dat hulle in die band inboor.

Die KO2 het ook verskeie loopvlakkenmerke wat die band stewige vastrap in die modder en op klipperige terrein gee. Die stawe in die skouer verbeter weer die traksie op sagte terrein terwyl die groewe vir jou vastrap in die sand gee.  

Die All-Terrains en die Mud-terrains sal dus albei die mas opkom op enige 4x4-terrein. Die deurslaggewende vraag is hoeveel teerpad jy ry in die maande tussen jou 4x4-vakansies.

Besoek https://www.BFGOODRICH.co.za/auto/choose-the-right-tyre vir meer inligting.

Ekstra bronne: Evan Naudé (Weg Ry & Sleep); 4x4-roetes van Namibië deur Jan H. Joubert