
Ek word soos altyd eenkant toe getrek en gevra om my sak oop te maak. Ek weet waaroor sy wonder, en haal die pistool uit. Die ding is… dié pistool is weggesteek in ’n dooie kat.
Laat ek verduidelik. My jongste verslawing is om voëlgeluide op te neem. Roepgeluide en liedjies is die hoofmanier waarop die meeste voëls kommunikeer.
Dis dan tog logies dat dit die hoofmanier moet wees waarop voëlkykers voëls uitken, of hoe? Ervare voëlkykers doen dit reeds jare lank. Volg een van die topspanne van Birdlife SA Birding Big Day en jy sal sien hulle doen 80% van die uitkennings net op grond van klank.
Jy het twee dinge nodig om voëlgesang op te neem: ’n opneemtoestel, wat basies ’n opgezjoesde diktafoon is (hoewel ’n selfoon ook sal werk as die nood druk); en ’n mikrofoon. Vir laasgenoemde het jy die opsie van ’n pistoolmikrofoon (so gedoop oor sy buisagtige vorm), of ’n paraboolskottel, wat soos die deksel van ’n Weberbraai lyk.
Die “dooie kat” is ’n donserige sokkie wat die mikrofoon bedek en die wind demp.
Nes fotografie gaan klankopnames nie net oor die regte toerusting nie. Dit verg oefening, geduld, beplanning, die vermoë om stilletjies te kan sluip, vroeë oggende en ’n gesonde dosis geluk. Jou aanvanklike resultate gaan waarskynlik teleurstellend wees, want die wêreld is ’n raserige plek.
Vliegtuie, vragmotors, motorfietse, sirenes, honde wat blaf, lugreëlings... Dié goed en ’n miljoen ander bronne van geraasbesoedeling maak dit byna onmoontlik om in stedelike gebiede klank op te neem.
Selfs in die wildernis moet jy steeds met twee groot geraasbronne stoei: wind en hadidas. Dis ’n eensame lewe daarbuite. Selfs die gefluister van medevoëlkykers klink soms soos donderweer.
Sedert ek my pistoolmikrofoon gekoop het, wil ek graag die roepgeluid van die breëbek opneem. Wel, “roepgeluid” is dalk die verkeerde woord. Hierdie snaakse klein vaal voëltjies gebruik nie hulle stembande om geluid te produseer nie. Pleks hiervan vlieg die mannetjies horisontaal en in ’n klein sirkel om ’n tak.
In die proses maak hulle ’n merkwaardig harde “prrrrurrr”-geluid. Mense het lank gedebatteer oor of dit ’n stem- of meganiese geluid is. Nuwe navorsing met behulp van hoëspoedvideokameras en windtonnels toon dat twee van die vlerkvere die geluid maak. Dit is onmiskenbaar en kan tot 500 m ver trek in die bos.
Ek het alles haarfyn beplan. Dis net voor dagbreek op ’n windstil Novemberoggend in die sandwoude in die noorde van Zoeloeland. Daar is nie ’n hadida, kleuter of grassnyer binne ’n 5 km-radius nie. Die enigste probleem is dat daar ook nie ’n breëbek in dié radius is nie. Of so voel dit.
Ná vier uur van muskiete wegklap en deur doringrige ruigtes sukkel, is ek warm, natgesweet en aan flarde gekrap en smag ek na koffie. Die sonbesies begin oefen. Om hulle gedreun later uit te sny is ’n pyn in die kloaak. Ek gooi dus tou op en besluit om verby ’n kol gras te gaan waar ek die vorige dag rooskeelkolpensies en gryssysies gesien het.
Toe ek uit die Fortuner klim, hoor ek ’n uitbarsting van klank. Ek kan dit nie glo nie, maar ’n breëbek is reg langs die kar aan die pronk. Ek staan doodstil en luister. Ja! Daar is nog twee, net ’n entjie verder.
Ek gryp my toerusting en begin angstig met die kabels en knoppies vroetel. (Ek sou later ontdek ek het reeds in dié geskarrel begin opneem – die string kragwoorde aan die begin van die klanklêer is die bewys.)
Ek kruip nader. Uiteindelik kan ek duidelik sien hoe die voël op en af bons voordat hy weer met ’n pronkvlug wegtrek.
Ek kan selfs die donserige wit rugvere sien wat hy op spesiale geleenthede ten toon stel. Ek probeer nie eens my verkyker of kameras nadertrek nie; my oë is vasgenael op die klankmeter se liggies. Hulle is stewig in die rooi, en ek is in die wolke.