Baie van ons vereenselwig kamp net met sekere maande van die jaar. Dis omdat dit bloot onplesierig is om tussen November en Januarie aan die Wes-Kaapse kus te kamp, want dan doen die Suidooster sy bes om jou tent weg te waai.
En as jy tussen Junie en Augustus in die Hoëveld uitspan, is die kans goed jy gaan in temperature onder die vriespunt kamp.
Dit hoef nie so te wees nie, en as jy die natuur se voorbeeld volg, kan jy steeds in die wintermaande jou wa pak en gaan uitspan. Kyk byvoorbeeld hoe die Swaeltjies dinge doen. Dié klub, waarvoor jy minstens 50 jaar oud moet wees, het die gedrag van die gelyknamige voëls aangeneem en vlug na warmer streke wanneer die kwik begin daal.