Van voor af dreig ’n sterk wind om my snorpunte tot in my ore te druk terwyl ek hoog bo die Langkloof sweef.

Dit voel asof ek aan die goue strale kan raak wat deur die pieke van die Outeniekwaberg tot op die lappieskombers van koringlanderye onder in die vallei strek.

Tussen my knieë draai Morné Jonker sy mikrovliegtuig se neus skuins en beduie na iets onder ons, maar die enjin druis sy woorde weg.

Buitendien is ek te diep ingedagte om behoorlik aandag te gee. Van hier bo af is dit duidelik dat Fiela Komoetie reg was. G’n driejarige kind kon oor die berge noord van Knysna tot in die Langkloof geloop het nie.

As die magistraat ’n draai saam met Morné kon vlieg, sou hy met haar saamgestem het. Maar helaas, dan sou Dalene Matthee se boek Fiela se Kind heelwat dunner gewees het en was menige hoërskoolkind ’n wonderlike storie kwyt.

Ek en John van den Berg van Bhejane Adventures kuier op Morné se gasteplaas, Louvain, sowat 64 km wes van Uniondale.

Ons is op ’n verkenningstog vir ’n nuwe toer wat die voetspore van die karakters in Dalene Matthee se bekende Knysnawoud-boeke volg.

Die plaaslande van Louvain met eerste lig gesien uit ’n mikroligte vliegtuig; In die namiddag staan John van den Berg en Morné Jonker (regs) en uitkyk oor die Langkloof hoe ’n wolkekombers oor die bergpieke inrol.

As jy in die laat jare tagtig en negentig Afrikaans op hoërskool gehad het, sou jy kennis gemaak met die karakters van Fiela se Kind, Kringe in ’n Bos en Moerbeibos.

Tot vandag toe is Knysna in my kop die plek waar Saul Barnard paaie met Oupoot, die olifant, gekruis het, waar Benjamin Komoetie by ’n onbekende familie moet gaan bly en Silas Miggel die Italianers ontmoet het.

Hoewel Matthee se boeke fiksie is, is van die stories op ware verhale gebaseer. En die lewenswyse, omgewing en die agtergrond is gegrond op die werklikheid van die negentiende eeu.

Die houtkappers, volstruisboere, gouddelwers en Italiaanse sywurmboere hét ’n 100 jaar of wat gelede in en om Knysna gewoon.

En nadat jy ’n draai deur hierdie wêreld gery het, voel jy déél van Matthee se stories.

’n Baken langs die Knysna-koppe dui die plek aan waar menige skeepsvragte hout uitgevoer is.

‘Binne-in die vryheid’

Ons het gister uit George vertrek en met die Montagupas tot in die Langkloof gery.

Dié indrukwekkende bergpas is in 1847 voltooi deur ’n span gevangenes onder leiding van Henry Fancourt White, die man waarna die ghrênd golflandgoed op George genoem is.

Meer as 170 jaar later lyk die bouwerk steeds mooi. Ek verkyk my aan die netjiese klipwerk wat die grondpad teen die berg vashou.

Ek en John hou by die ou tolhuis stil. Destyds moes elke ossewa of perdekar ’n tarief van twee pennies per wiel en een pennie vir elke dier betaal om oor die pas te ry.

Deesdae kan jy die pas gratis ry, maar dis nogtans die moeite werd om by dié nasionale monument in te loer.

Ná ’n verwoestende brand in 2018 is die tolhuis gerestoureer, kompleet met ’n nuwe versameling oudhede en ’n restaurantjie.

Joulian Roelofse verwelkom jou by die George-tolhuis en bak boonop pannekoek.

“En ons maak tee en pannekoek ook,” vertel Joulian Roelofse terwyl ek peusel. Joulian werk stoksielalleen by die tolhuis as opsigter, nutsman en pannekoekbakker.

Ek is nuuskierig oor wat ’n mens elke oggend bergop lok. “Jy is ín die natuur,” sê Joulian asof hy hierdie vraag al baie beantwoord het.

En dan, nes ’n Matthee-karakter, sê hy: “Hier kleef niks aan jou vas nie. Jy raak sommer ontslae van baie dinge. Jy is binne-in die vryheid hier.”

Anderkant die Montagupas ry ons deur die dorpie Herold voordat ons oos draai op die N9.

Alkant van die pad staan hoë stellasies waaraan hops (die bitter bestanddeel in bier) groei en wanneer ons die Langkloof binnery, word koringlande afgewissel met krale kuddes van Fiela se kosbare boergoed, volstruise.

Later, toe ons by Louvain gemaklik raak, ontgaan die ironie my nie wanneer ons saam met Morné aansit vir volstruisfilet ’n kothuis genaamd “Fiela se Huis”.

George-tolhuis

Die tolhuis is oop Dinsdae tot Vrydae: 8 vm.-1 nm.; Saterdae: 9 vm.-2 nm.; Sondae: 11 vm.- 2 nm.

Kontak 082 772 8252 of soek “Toll House George” op Facebook.

Jimmy Zondagh wys ’n foto van sy oupagrootjie Petrus Hendrik wie as ’n karakter in Dalene Matthee se boeke verskyn.

Welkom by die Zondaghs

Ná die mikrovliegtuigvlug groet ons vir Morné en mik ooswaarts met die N9 in die kloof af.

“Julle gaan naby Wolwekraal, waar Fiela gewoon het, verbyry. Stop daar langsaan by die plaas Belle-Vue en maak ’n draai by Jimmy Zondagh,” is van sy laaste woorde voordat ons wegtrek.

Zondagh? Hoekom klink die naam so bekend? “Dalene was ’n familievriend,” sê Jimmy wanneer ons ’n uur of wat later in sy kantoor koffie drink.

Jimmy is ’n appelboer en ken die streek se geskiedenis goed, trouens, sy familie is deel van die geskiedenis. “Die name wat sy in haar boeke gebruik, is die regte mense wat destyds hier was,” verduidelik hy en wys na ’n swart-wit foto teen die muur.

’n Statige tannie in ’n swart rok staan langs ’n man met ’n welige grys baard. “Sy het my oupagrootjie Petrus Hendrik, daarso, in die boeke gebruik.”

Nou weet ek waar ek die naam Zondagh vandaan ken... Petrus Zondagh het langs die Komoeties geboer. Die Zondaghs is al meer as tien generasies in die Langkloof.

“In die ou dae het my mense net een keer ’n jaar te perd Swellendam toe gereis. Dan gaan hulle vir ’n doop, ’n nagmaal en wat ook al nog, want dis waar die distrik se magistraatskantoor was. Hierdie was die oosgrens van die Kaapkolonie,” vertel Jimmy.

Hy vuur feite, datums, name en ’n spul ander inligting op ons af soos vuurpyle.

Toe ek weer sien, staan ek met ’n pak afskrifte van inligtingsbrosjures, lugkaarte, ’n lys stambome en ’n uittreksel uit een of ander geskiedenis-boek wat vertel van die skermutselinge tussen die Boere en die Britte in die Langkloof in 1901.

’n Gedenksteen vir Dalene Matthee staan langs ’n 880 jaar oue geelhoutboom by Krisjan-se-Nek-piekniekterrein.

G’n wonder Dalene het hier kom aanklop vir inligting nie.

Dis dieselfde storie wanneer ons ’n draai op die plaas ry. “Sien jy hierdie geboutjie?” vra Jimmy en wys by die bakkie se ruit uit. “Dis waar die goewernante gebly het, ’n vrou van Engeland wat kinders geleer lees en skryf het.”

Hy wys na nog ’n gebou. “Daai is die smidswinkel, waar die ou poswaens reggemaak is nadat hulle oor die berg gekom het. Ha! My huis is ook in die 1840’s gebou.”

Ons ry verby appelboorde teen ’n kop agter die plaashuis uit. “Ons het in die vroeë 1900’s met appels begin boer,” verduidelik Jimmy. “Ons is 1000 m bo seevlak hier. Dis gemiddeld een van die koudste plekke in die land. Dié dat dit goed is vir appels kweek.”

Bo-op die kop beduie Jimmy in ’n wye sirkel. “Daar is die Kammanassieberg. Die Outeniekwaberg diékant, Swartberg daar, Baviaans daai kant toe.”

En wat is die berg waarop ons staan se naam, wil ek by Jimmy weet. “Die Zondaghsberg,” antwoord hy met ’n glimlag.

Ja-nee, as jou mense vir 250 jaar aan die voet van dieselfde berg bly, verdien dit seker om die familienaam te dra.

Die Prins Alfredpas is propvol fyn draaitjies en soos dié graffiti waarsku, moet jy mooi kyk waar jy ry.

Ons groet Jimmy en vat pad na Avontuur, ’n klein dorp wat op die Zondaghs se eiendom ontstaan het.

Hier draai ons suid op een van Thomas Bain se indrukwekkendste bergpasse, die Prins Alfredpas.

Ek is fanaties oor ’n mooi bergpas, veral as dit ’n grondpad is.

Terwyl ons een kronkel ná die ander teen die berg af volg, sien ek voor my geestesoog hoe ’n angsbevange Benjamin Komoetie agterin die sensusmanne se kar vasklou om die smal draaitjies.

Dis laatmiddag wanneer ons in die Bitouvallei aankom by ons slaapplek vir die volgende twee aande.

Bhejane het die Garden Route Biomimicry Camp, ’n ekovriendelike boskamp, opgerig op die oewer van die Bitourivier, sowat 12 km van Plettenbergbaai af.

Dié ganse kamp met netjiese safaritente kan binne ’n uur opgepak word. Dis ontwerp om so min as moontlik impak op die omgewing te hê. Dus kompostoilette, emmerstorte en selfs ’n yskas wat met steenkool koud bly.

Wanneer ek later onder die kronkeltakke van ’n melkhoutboom in my tent aan die slaap raak, droom ek ek sweef weer oor die Outeniekwaberg en kyk af op ’n donkergroen woud.

Daar is min wat Hardy Loubser nié van die Knysnawoude weet nie – van die grootste boom se naam tot die fynste blaartjie.

As die bos jou roep

Die volgende oggend ontmoet ons vir Hardy Loubser, ’n gids, by die vulstasie op Harkerville.

’n Paar kilometer wes draai ons in by die Garden of Eden-deel van die Tuinroete- nasionale park en klim op die Petrus se Brand-pad, ’n 24 km lange pad deur die woud na die Diepwalle-bosboustasie toe.

Die roete is oop vir die publiek as ’n berg-fietsroete, maar Bhejane het ’n konsessie om die pad met voertuie te ry.

Hardy begelei al jare lank toere deur die Knysnawoud en is boonop ’n ereveldwagter, dus peper ek hom met vrae oor die bos se grootste raaisel: olifante. “Kyk, hulle was eens op ’n tyd volop,” antwoord Hardy. “Maar teen die 1800’s was daar omtrent 500 oor en van daar af het hulle getalle vinnig begin kwyn. In 2000 het iemand gedink hulle sien ’n bul in die Gounawoud, maar dit was steeds onseker presies hoeveel olifante oor is.”

Sonder dat ek agtergekom, vou die oerbos soos ’n groen kombers om ons. Hier en daar glinster die son deur ’n gaatjie in die blaredak.

Verder as tien meter tussen die blare in kan jy nie sien nie, en wanneer ek uit die bakkie klim, demp ’n blaretapyt die klank van my voeteval.

Ek begin verstaan hoekom dit moeilik is om ’n sku dier hier te vind, selfs iets so groot soos ’n olifant.

“Toe kom die omgewingskundige Gareth Patterson,” vertel Hardy verder terwyl ek my verkyk aan varings, mos en sampioene tussen die boomwortels. “En hy sê in sy boek, The Secret Elephants, dat daar omtrent 11 olifante oor is. Daarna is daar kameras uitgesit om sy teorie te toets. Vandaar is gesien dat al die vorige waarnemings eintlik net een eensame koei is. Dis hoekom ons deesdae aanvaar dat daar net die een olifant oor is. Niemand weet wat met die ander gebeur het nie.”

En wat is die laaste olifant se naam, vra ek. “Oupoot,” antwoord Hardy. “Nes in die boeke.”

Later hou ons stil by Kleineiland, ’n kruin van die Outeniekwaberg wat soos ’n bleskop bo die digte bos uitsteek.

Dis op hierdie eilande waar die houtkappers gewoon het. Hier kon ’n mens vars lug skep, groente kweek en ’n olifant darem op ’n afstand sien aankom.

Met sy lang hare, dik baard en langsteelbyl agterop die bakkie sou jy dink Hardy is ’n gebore bosmens en dat hy op só ’n eiland grootgeword het... “Ek het in die Vrystaat grootgeword, niks geweet van woude nie. Vir my was woude die Amasone of die Kongo. Ek het nie eens geweet ons het so ’n woud in Suid-Afrika nie!”

’n Huisvriend was die bibliotekaris op sy tuisdorp, Senekal. “Eendag sê sy vir my lees hierdie boek, Kringe in ’n Bos,” vertel Hardy. “En toe ek begin lees, het dit my aangegryp.” As volwassene het Hardy die Knysnawoud besoek, maar die lewe het eers met hom ’n paar ander draaie (jy kan selfs sê kringe) gestap voordat hy permanent op Knysna kom bly het.

“Die roep van die bos het my gered,” sê hy. “As ek terugdink, is dit eintlik Dalene wat my hierheen gebring het. Deur haar boeke.”

Wat de moerbei?!

By die Diepwalle-bosboustasie stap ek ’n draai deur die Forest Legends-museum. In een vertrek vertel ’n versameling swart-wit foto’s van die mense wat met byle, sae en goudsiwwe tussen hierdie bome ’n lewe probeer maak het.

In ’n ander vertrek staan die volledige geraamte van een van hulle grootste vyande in die bos: ’n reuse-olifant wat in 1983 by Harkerville gekry is.

Dié stories van Knysna se houtkappers en olifante herinner my aan Saul Barnard se pleidooi in Kringe in ’n Bos. “Hulle was eerste in die Bos. Hulle het nêrens om heen te gaan nie!” maan hy wanneer hy met sy broer, Jozef, stry oor die jagtery.

Saul, en dis te sê Dalene, was natuurlik reg. En nou is daar net een oor.

Van Diepwalle af ry ons met Kom-se-pad weswaarts na die Gounawoud. Dis in hierdie deel van die woud waar die Italiaanse sywurmboere gevestig is en Matthee se boek Moerbeibos afspeel.

Die storie is gebaseer op die 32 Italianers wat op versoek van die Kaapse koloniale regering in 1881 hier aangeland het met die doel om ’n sybedryf te vestig.

Daar is wel een verkeerde aanname gemaak: Sywurms vreet nie die inheemse moerbeiboom (Trimeria grandiflora) se blare nie! En die regte boom, die witmoerbei (Morus alba), wou nie hier groei nie.

Die sywurmboerdery het nooit floreer nie. Vir enkele maande het die regering gehelp met kos en blyplek, maar mettertyd het die setlaars begin werk as arbeiders, boere en houtkappers om te oorleef.

In 1891 word daar ’n beskeie kerkie, die San Ambroso-kapel, vir hulle gebou. Die geboutjie is in 2005 opgeknap deur een van die afstammelinge, Rayno Sciocatti, en het ’n interessante versameling ou briewe, koerantknipsels en swart-wit foto’s wat dié immigrante se storie vertel.

Kom maak gerus ’n draai as jy verwant is aan ’n Sciocatti, Robbolini, Fardini of Polonia.

Die 3,6?km lange wandelpad by Jubilee Creek lei jou deur die woud, verby ’n stroompie en uiteindelik ook verby verlate mynskagte uit die 1880’s. Die Montagupas (oorkantste blad) tussen George en Herold met sy 126 draaie is die oudste onveranderde bergpas in die land.

Laag op laag

Die volgende oggend mik ek en John weer bos toe, hierdie keer na Jubilee Creek sowat 30 km noord van Knysna.

’n Stroompie kabbel verby ’n handjievol piekniektafels, onderdeur ’n voet-brug en verdwyn tussen die groenigheid.

Ons volg ’n wandelpad al langs die water, bos in. “Dis darem ’n gans ander ervaring wanneer jy uit die bakkie klim en ’n bietjie stap,” sê John.

Hy had gelyk. Jy ruik modder en klam blare, iewers diep tussen die boomtakke maak ’n knysnaloerie keel skoon en jou vingers raak-raak aan die bas van ’n stinkhout, geelhout, witels.

En as jy op jou hurke sit, sien jy die bos se onderlaag: ’n mikrowêreld van sampioene, mos-tapyte, babavarings en glinsterende spinnerakke.

Langs die voetpaadjie kom ons af op ’n ou mynskag. In die laat 1800’s het prospekteerders nog ’n laag ónder die bosvloer ontdek en ook baie tyd op hulle hurke in hierdie skagte deurgebring op soek na die glinstering van goud. (On)gelukkig het die goudbedryf nie lank gehou nie en binne tien jaar het feitlik al die myners verkas na die ryker goudvelde in die noorde.

In die namiddag vaar ons uit op die Knysna-strandmeer vir ’n skemerkelkie, maar die lug is grys en ek trek my baadjie stywer teen die geniepsige wind.

By die Knysna-koppe alkant van die riviermonding wonder ek hoeveel vragte hout is hier uitgevoer. Hoeveel ponde goud? Hoeveel olifanttande? Hoeveel mense het hier aangeland met blink toekomsdrome?

Danksy Dalene se verhale kan ’n mens jou verdiep in die geskiedenis. Al word hier nie meer hout gekap of met sywurms geboer nie, is hier darem nog een olifant oor wat Dalene se stories met die werklikheid verbind.

Iewers diep in ’n geheime allerheilige deel van die oerbos stap Oupoot in haar voorvaders se spore. Mag sy vir altyd leef.

BLY HIER

Louvain-gasteplaas

Dié gasteplaas in die Langkloof het blyplek vir elke beursie. Die kampterrein het warm storte en spoeltoilette, maar geen krag nie.

Die Stables bestaan uit sewe aaneenlopende eenhede, elk met drie beddens en ’n badkamer, met ’n gemeenskaplike kombuis en braaiplek. Die drie luukse selfsorgkothuise word omring deur groen grasperke en berg-uitsigte.

Kamp R200 p.n. vir 2 mense, R50 per ekstra persoon.

The Stables: vanaf R900 p.n. vir 3 mense (slaapplek vir 21).

The Dairy: R2 500 p.n. vir 10 mense.

Fiela se Huis: vanaf R3 200 p.n (slaapplek vir 8 mense).

The Homestead: vanaf R4 000 p.n. vir 10 mense. Hier’s ook twee eenhede, The Homestead Annex, met ’n gemeen-skaplike braaiplek: vanaf R700 p.n. vir 4 mense.

KONTAK 044 518 0015; louvain.co.za

Garden Route Biomimicry Camp

Dié ekovriendelike kamp is net oor Paasnaweek en die Desember-vakansie oop.

Die safaritente (twee enkelbeddens elk) staan versprei tussen melkhoutbome, elk met ’n kompostoilet en emmerstort. Etes word bedien in ’n gemeenskaplike boma.

En jy kan na hartelus kajak, SUP (stand-up paddle board), dikwiel-fietsry of voëlkyk uit ’n skuiling. Vanaf R990 p.p. (met maaltye en aktiwiteite).

KONTAK 044 535 9033; 082 724 0442; bhejane.com

Toer saam! Bhejane bied ’n vyf dae lange toer aan wat verskeie Dalene Matthee-besoekpunte insluit. Dit kos R8 450 p.p. 

KONTAK 082 724 0442; bhejane.com