Die Limpoporivier ontspring ongesiens iewers in ’n agterplaas in Gauteng, waar die verste waters van die Krokodilrivier vandaan kom. Wanneer die Krokodil by Rooibokkraal – noord van Thabazimbi – aansluit by die Maricorivier, word dit die Limpopo in ons kaartboeke.

Dít is die amptelike feite, maar in werklikheid is die Limpoporivier moeiliker om vas te pen. Dit verskyn en verdwyn. Dit kom af in vloed, droog weer op. Ry jy oor die rivier met een van die brûe tussen Suid-Afrika en Botswana dan sal jy selfs effens teleurgesteld wees: ’n Paar sandbanke, ’n poel modderwater – was dít nou dit? Die Limpopo verskyn nie op poskaarte of die voorblaaie van koffietafelboeke nie.

Dit is nie ’n windgat rivier nie. Dit is verskuil agter digte bosse en hoë wildheinings. Vrye toegang tot die rivier is skaars, en jy moet dikwels iemand ken wat jou op sy plaas sal laat rondry sodat jy nader aan die rivier kan kom. As jy die Limpoporivier wil vind moet jy eerder soek na iets anders, soos mooi bome, of voëltjies, of sommer net rus en vrede. Mettertyd sal die rivier in jou randvisie begin vorm aanneem, en lyf kry.

Volg die bome

Vir ’n boom het Willem Frost baie tyd, en hy is van vroegdag af hartseer dat ons één dag saam nie genoeg is om by al die mooi bome uit te kom wat hy vir my wil wys nie. Willem woon langs die Matlabasrivier, een van die Limpopo se sytakke. Dit is vroeg in November 2020, en dit het al begin reën in dié deel van die Bosveld.

Willem Frost
Willem Frost staan onder ’n enorme anaboom by die Leef Voluit-boerdery naby die Stockpoort-grenspos.

Ons draai in by ’n plaas genaamd Mooivlei. Langs die rivier sien ons ’n visarend sit in ’n anaboom, waarin ook tientalle buffelwewers nesmaak laer af. Ek hoor ’n diederikkie, ’n bontvisvanger, een of ander kakelaar.

Willem wys my vader-landswilg, soetdoring, hardekool en die groot-koorsbessie. Laasgenoemde is só lief vir ruigtes maak langs die oewer dat ons die rivier soms glad nie kan sien van die tweespoorpaadjie af langs die draad nie. Ja, draad – om diere binne te hou. Dis natuurlik ook ’n internasionale grens, en die draad beperk die verspreiding van siektes soos bek-en-klouseer.

Maak vrede daarmee. Kyk deur die doringdraad. Kyk na daar waar die slanghalsvoël op ’n tak sit en vlerke droogmaak. Kyk hoe span die reusebome hulle wilde takke oor die drade. En hulle wortels? Drade hou hulle nie binne nie. Van Mooivlei af ry ons ’n ent tot by die toe hek van Buffelsdrift. Dis nog iets van hierdie wêreld – jy kom dikwels teen ’n hek te staan waar jy nie kan of mág deur nie. Dan stop jy maar en haal die koffiefles uit.

Daar is altyd ’n boom om te geniet of ’n roofvoël hoog op vlerk wat jou skrefiesoog dophou van bo. Buffelsdrift was eens die “hoofpad” tussen die ou Zuid-Afrikaansche Republiek en Betsjoeanaland. Van die Dorslandtrekkers is hier deur op hulle moeisame tog noord.

‘Die Limpopo verskyn nie op poskaarte of die voorblaaie van koffietafelboeke nie. Dit is nie ’n windgat rivier nie.’

Hier lê ook, vertel Willem, vergete grafte. Walter Ayres was die broer van Thomas Ayres, ’n bekende 19de-eeuse voëlkenner (die kleinjagarend se Engelse naam, Ayres’s hawk-eagle, dra sy naam). Walter is in 1898 hier begrawe, en was ten tyde van sy dood ’n grensposamptenaar (dit is lankal nie meer ’n grenspos nie). Koffie gedrink ry ons ’n paar kilometer oos, waar die Matlabasrivier die pad kruis.

By die plaas Tweerivier draai ons in, en vind pad verby landerye na die Limpopo. Die boer Jan Beukes klim met ’n groot glimlag op sy gesig uit sy bakkie om hand te skud. Hy het goeie rede, want water tuimel oor sy stuwal met die gedruis van ’n juigende skare. Dié water kom grotendeels uit een van die Botswana-sytakke, die Ngotwane, wat ’n ent stroomop by die Limpopo aansluit. Die Ngotwane kom van so ver as Gaborone.

“Dis jare laas wat die Limpopo al in Novem- bermaand afkom,” sê Jan. “Dié stuwal lyk dalk nie na veel nie, maar as dit vol is, en jy vaar met ’n boot daarop, dan sien jy dis báie water.” Die Limpoporivier is vol damme (stuwalle) wat aan boere besproeiingswater voorsien in die maande wanneer die rivier stilstaan. Dit beteken dat wanneer die rivier in die somer begin vloei, die een dam na die ander eers moet volloop, en oorloop, voordat die Limpopo sy gang kan gaan. Dit is soos ’n aflosstok wat geleidelik aangegee word. Die rivierboere het ’n WhatsApp-groep.

Daar hoor jy wie het water, en jy maak jou gereed vir wanneer jou beurt kom. Willem wys my ’n anaboomwoud, en ons kyk ook na bosveldbloubos, gewone taaibos en bosveldkatjiepiering. Laasgenoemde se roomwit blomme is so uitspattig in die vaalgroen bosveld soos ’n vuurwerkvertoning in die nag. Van Tweerivier ry ons eers na Steenbokpan om brandstof in te gooi.

Hier is geen groot dorpe langs die Limpoporivier nie. Die Limpopo se plekke is grensposte, en boerderydorpies soos Steenbokpan, Tom Burke en Swartwater. Die grondpad van Steenbokpan na Stock-poort is vandag vol poele en ek volg Willem op ’n veilige afstand in my Mahindra-bakkie om te sien hoe diep die water is.

Dit is al ná middagete wanneer ons aankom by die Leef Voluit-boerdery stroomop van die Stockpoort-grenspos. Hier sien ons ’n anaboom wat ons tot stilte dwing. Jy kyk op deur die takke en sien geen einde nie. Jy tree om die wye stam waar die grond dit insluk en vergeet hoeveel treë jy gegee het. Hierdie een is hol, en ek staan met gemak binne-in die boom.

Ek verwag half om op te kyk en kerkklokke daar te sien hang. “Kom,” sê Willem, “daar is nog een hier naby...” Van Stockpoort ry ons ’n ent oos met die R572-teerpad tot by Limpopo Tented Camp. Ons ontmoet Rudie du Toit, wie se familie al van 1965 af hier rond grond besit. In die rivierbedding lê seekoeispore diep ingepars.

’n Ou kyk maar links, regs, en dan weer links voor jy selfs ’n droë Limpopo betree. Krokodille dra nie paspoorte nie, en seekoeie ken nie besigheidsure nie. Op die oewer staan ’n knewel van ’n harde-kool. Die son is al laag in die weste, en die strale filter deur die ruwe, bedoringde oewerbos en kom raak aan ons gesigte en die granietharde silwergrys stam van die boom.

‘John het my vertel dat sy pa altyd gesê het daar is twee soorte ouens wat nie in die Bosveld hou nie: ’n luiaard en ’n windgat.’

Bly stil, Meneer wil ’n wildebees skiet

Ek groet vir Willem ná ons dag van wonderbome en ry met die R572 tot by Tom Burke, en daarvandaan na Moriti Bush Camps. Dis op die oewer van die Limpopo, net stroomop van die Groblersbrug-grenspos. In die sterk skemer slaan ek my tent op, maar staan dan stil om te kyk hoe die lug ontplof met swaeltjies.

Hulle vang goggas in die laaste lig. ’n Waterdikkop skreeu, ’n piet-my-vrou roep, ’n bloureier reier verby. Dis asof alles gelyk gebeur en die Limpopo homself vlugtig vir my wys.

Die eienaars van die plaas, Adéle en Alberto Engelbrecht, kom sluit by my aan vir ete om die kampvuur. Adéle se ouers, Tokkie en Piet van den Heever, is ook teenwoordig. Alberto is van Musina en het Adéle in Pretoria ontmoet, waar hy as wapensmid gewerk het.

Adéle het hier grootgeword, en haar ouma se familie het al in 1930 na die Swartwatergebied getrek. Hoewel op Tom Burke ’n koöperasie, petrolpomp en polisie-stasie is, is Swartwater – verder oos – eintlik die streek se “dorp”. Adéle vertel die storie van hoe in haar ouma se tyd ’n onderwyser by Swartwater se skool eenslag sy les onderbreek het omdat hy ’n blou- wildebees op die pan naby die skool gewaar het. Die klas moes ’n minuut lank stilsit sodat hy gou die blouwildebees met sy Lee-Metford-geweer kon klits – sommer deur die venster. 

“Ons boer hier met tabak en nou en dan gem squash,” vertel Alberto. “Tabak aard goed hier, want dit het hitte nodig, en ’n lang somer.” Die kampplek het hulle in 2014 begin, aanvanklik vir hulleself. “Adéle sal sit en voëls kyk,” sê Alberto, “dan vang ek vis, en ons braai die kurpers in die pan net daar.” Die kom en gaan van water in die rivier beheer tot ’n groot mate jou lewe as besproeiingsboer hier.

“In 2019 het die Limpopo in Mei gaan staan, in 2020 het dit tot omtrent Juliemaand geloop,” vertel Alberto. “As hy gaan staan, het ons nog water in ons dam vir sowat drie maande. Die Palalarivier voeg soms water by tot die Limpopo, maar daar is ook reeds te veel damme gebou in die Palala.” Die volgende oggend sit ek lank in my kampstoel en kyk vir die rivier. Ek hoor bos-patrys en bosveldfisant.

Twee witrugaas- voëls sweef verby – die groot oewerbome is hulle broeiplek. Willem sou van dié plek gehou het: Hier staan hardekool, appelblaar en njalaboom. Ek eet oorskietwors van gisteraand – Adéle-hulle het my bederf (haar ma het my sommer ’n vrugtekoek present gegee!), en pak traag my tent terug in die Mahindra. Hierdie is ’n plek vir vashaak, ’n plek vir in pas kom met die tempo van die rivierlewe.

Jan Beukes, Tweerivier
Jan Beukes van die plaas Tweerivier staan saam met Willem Frost en kyk na die water wat oor sy stuwal stroom. Jan boer met onder meer pampoene en beeste op Tweerivier.

Mabalêl se Poel

Ek ry na Tom Burke waar ek tenk volgooi en proviand aankoop vir my volgende paar dae op die pad. Tussen hier en Pontdrift, waar ek my reis wil afsluit, lê nog drie dae. Dis vrekwarm, en veel droër as rondom Steenbokpan. Ek ry deur Swartwater en draai links op ’n grondpad wat rivier toe swaai.

Padlangs sien ek ’n stuk grond wat ontbos is: Hier is nóg ’n paar hektaar dors besproeiing wat kom, en die Limpopo sal moet voorsien, as dit kan. Ek het ’n afspraak met Mark en Lesley Berry, eienaars van Mmabolela, ’n privaat-reservaat wat gestig is deur die koerantmagnaat A.V. Lindbergh (die Central News Agency, oftewel die CNA, was in die vroeë 1900’s sy besigheid).

Lindbergh het twee plase, Du Plessis en Weederdooper gekoop, asook grond aan die oorkant van die rivier, in Betsjoeanaland. Dié is sedertdien verkoop, maar Mmabolela bestaan voort as bewaringsgebied. As die naam Mmabolela jou laat dink aan Eugène Marais se gedig “Mabalêl” is jy nie verkeerd nie.

Mabalel se Poel is op Mmabolela en volgens oorlewering is dit hier waar die jong Mabalel deur ’n krokodil in die rivier ingetrek is. Hier is ander geskiedenis ook. Die Limpopo was nog altyd ’n plek van baanbrekers, avonturiers, uitwykers. Roualeyn Gordon-Cumming het in 1846 al hier rond gejag. In 1871 het die reisiger Thomas Baines gekamp langs die Raaswater, ’n stroomversnelling naby Mabalêl se Poel.

In 1917 is twee Verviers-broers van die plaas Weederdooper op agtereenvolgende dae deur dieselfde leeu doodgemaak. “Die Limpoporivier is lankal nie meer die romantiese ‘great grey-green, greasy Limpopo River, all set about with fever trees’ soos Rudyard Kipling in 1902 geskryf het nie,” sê Mark Berry met ’n laggie. “Dis deesdae sommer net ’n stormwatersloot vir Johannesburg.”

Ons sit in Mark en Lesley se huis op die plaas Du Plessis. Die vertrek is vol boeke, kaarte, bokhorings, ou foto’s – dinge wat getuig van die feit dat hulle natuurmense is. Lesley se waterverfskilderye van bosveldplante lê op ’n lessenaar. Albei het biologiese wetenskap gestudeer, en Mark het lank vir De Beers gewerk waar hy omgesien het na omgewingsdienste by al die myne. Hy het wêreldwyd gereis vir dié werk, maar ook hier naby na die Venetia-myn (suid van Mapungubwe).

Sy lang verbintenis met die Lindbergh-familie beteken dat hy al sedert 1955 gereeld langs die Limpoporivier kom. Die 10 km-rivierfront op hulle eiendom is grotendeels onaangeraak. Stroomop en -af van hier het ontwikkeling byna oral die rivier kom verander oor die afgelope eeu. Die meeste van die wild op Mmabolela is nog altyd hier, die gene gegiet deur voorgeslagte wat ook hier gewei het – en nie van elders ingevoer is soos met vele wildboerderye vandag nie.

Ongelukkig het hulle geen beheer oor wat stroomop gebeur nie, en die feit dat die rivier nie meer standhoudend is nie, is die grootste enkele verandering in die ekologie van die omgewing. “Die groot bome naby die rivier begin doodgaan,” vertel Mark. “Nie die anabome nie, want hulle staan in die vloedvlakte en kry genoeg water. Maar die hardekool, huil-boerboon en tamboties, wat deel vorm van die oewerbosstrook, maar verder weg van die water staan. Die watertafel onder die rivier is te laag om hulle aan die lewe te hou.

’n Huilboerboonboom groei uit ’n termiethoop op di
’n Huilboerboonboom groei uit ’n termiethoop op die Mmabolela-privaatreservaat.
Lesley en Mark Berry
Lesley en Mark Berry, die eienaars van Mmabolela, in hulle huis op Du Plessis.

Ons begin die afgelope dekade al meer vrektes sien.” Daar was ’n tyd toe die Limpoporivier verskriklik baie water gehad het. Dit was meer as 100 miljoen jaar gelede, toe die Okavango-, Kwando- en Zambesirivier almal in die Limpopo ingeloop het. (Veranderinge in die aardkors het mettertyd dié riviere elders heen laat vloei.) Die natuur verander gedurig, maar gewoonlik baie stadig.

Tog het ons aktiwiteite – mynbou, landbou, die ontstaan van groot stede aan die Rand – binne slegs 100 jaar die Limpopo laat stotter. Die Limpopo moet nou hard werk om by die see uit te kom. Die goeie tye is verby. In Mark se leeftyd kon hy sien hoe iets soos die oewerwoud agteruitgaan. Dis waarom Mmabolela vir hom soveel saakmaak, en waarom hy dit so lank as moontlik wil bewaar.

Ek en Mark ry rivier toe. By Mabalêl se Poel proes ’n seekoei en sak weg, oortjies laaste. Deesdae, sê Mark, kry jy die seekoeie in groepies van drie of vier. In die 1960’s onthou hy dat hulle sommer 30 bymekaar kon wees. Die poel het altyd water, want ’n natuurlike rotsformasie dam dit op. Die Raaswater-stroomversnelling is egter kurkdroog, maar ek kan aan die maalgate en gladde rotse sien hoe eeue se water al hier geskuur en poets het.

Verder stroomaf, by die drif waar Thomas Baines waarskynlik in 1871 die rivier gekruis het, stap ons onder lieflike anabome. Die peule kraak onder die sole van ons vellies. Kolganse slinger verby en land slordig in die water. Mark wys waar ’n krokodil graag nesmaak. In die agtergrond kôk-kôk-kôk ’n neushoringvoël die klankbaan van die bosveld. Hier is nog baie oor om te bewaar.

Bosbokke is volop in die oewerbos langs die Limpop
Bosbokke is volop in die oewerbos langs die Limpoporivier – hierdie foto is by Ratho Bush Camps naby Pontdrift geneem.
Die maalgate by Raaswater op Mmabolela
Die maalgate by Raaswater op Mmabolela getuig van eeue se??waterverwering.

Jaarvergadering op Bambata

Mark het my op sy foon gewys volgens die plaaslike boerevereniging se WhatsApp-groep gaan “Toast Coetzer van Weg-tydskrif stories met ons deel en saam ons kuier”. Dis nuus vir my, maar ek vermoed ek weet wie daaragter steek: die oudrugbyspeler John Williams. John en sy vrou, Mariana, boer naby die Platjan-grenspos en ek het – hoeka per WhatsApp (kan boere nog boer sonder Whats-App?) – bespreek om by hulle Boelamien-rivierkamp oor te slaap.

Op hulle werf is die eerste ding wat ek sien John wat ’n enorme vierwielmotorfiets soos ’n wafferse Atlas (onthou, John het slot gespeel) uit die stoor stoot sodat ek my bakkie onderdak kan parkeer. Mariana se gasvryheid ken geen perke nie. Nee, wat, besluit sy, dis te warm en ek moet sommer by hulle aan huis slaap. Dit is Saterdag en Bosveld Agri se jaar-vergadering is vanaand.

Zulu, die hond
Zulu, die hond, hou sake dop terwyl die lede van Agri Bosveld luister na hulle voorsitter, Cobus Coetzee, op die plaas Bambata.

Noudat ek weet my naam is op die program (saam met onder meer “springkasteel vir kinders” en “kleiduifskiet – bring jou haelgeweer en patrone”) is die saak reg. Ons gaan sit in hulle kroeg en drink ’n bier. John se pa het dié plaas, Mayholme, in 1944 gekoop. John is twee jaar later gebore. “Jy kan dink hoe ’n jong laaitie hier met ’n pellet gun of ’n .22 kan voëltjies skiet en jag.

Later as student het ek vakansietyd my pa help boer, maar ook die veld geniet en gejag, visgevang of sommer net gaan stap.” Teen die dak en mure van die grasdakgebou hang aandenkings uit John se speeldae – dasse, rugbytruie (Britse Leeus, All Blacks...), kouse (Rhodesië, Noord-Transvaal...). Maar in 1999, vyf jaar nadat sy pa oorlede is, het John besluit om permanent plaas toe te kom en sy loopbaan as rugbyafrigter vaarwel te roep.

“Hierdie is ’n fantastiese wêreld om in te bly,” sê John. “Kyk, moenie ’n fout maak nie: hy raak baie warm, hy raak baie droog, en hy kan vir jou aflaai. Maar ons is liewer vir hierdie wêreld as wat ons moet wees.” “Ons wil nie hier weg nie,” beaam Mariana, “dit is ’n groot voorreg om hier te kan woon.”

Laatmiddag ry ons na die plaas Bambata waar die Agri Bosveld-boerevereniging vergader. In die vloedvlakte langs die rivier word kleiduif geskiet. Pa’s hou hulle dogters vas sodat hulle die swaar haelgeweer kan opswaai en ’n oranje skyf uit die lug klits. (Ek probeer ook – als mis!) Wanneer die son sak, is ons by die plaashuis se kuierplek.

Die braaivuur brand hoog en die voorsitter hardloop deur die agenda. Plaasveiligheid is hoog op die lys – ’n nuwe kamerastelsel vir die paaie word beoog. Eenkant speel die kinders tussen die tafels waar die meeste van die vroue sit en kuier. Nou en dan dreun ’n laaitie met sy groot speelgoedtrok deur die vergadering.

Hierdie is die mense wat die eens wilde randgebied van die Limpopo laat wérk. Hulle oupas en oumas was die pionierboere en vandag se generasie – en die jong seuns en dogters wat saam kleiduif geskiet het – vat dit verder. John het my vertel dat sy pa altyd gesê het daar is twee soorte ouens wat nie in die Bosveld hou nie: ’n luiaard en ’n windgat. Vanaand sien ek nie ’n luiaard of ’n windgat nie.

Kleiduifskiet
Kleiduifskiet langs die Limpopo voor die jaarvergadering van Agri Bosveld. Hier help Joe Roos sy seun, Jako (9), terwyl Hendrik van der Walt bystaan
John en Mariana Williams
John en Mariana Williams in die kroegie op hulle plaas Mayholme naby Platjan. Aandenkings uit John se rugbyspeeldae hang teen die mure en dak.
Seekoeispore in die rivier naby Stockpoort.
Seekoeispore in die rivier naby Stockpoort.

Pontdrift

Om by Sandra Boshoff se Ratho Bush Camps te kom moet ek van Platjan eers Alldays toe ry en van daar weer noord na Pontdrift. Kort duskant die grenspos draai ek links op ’n grondpad, wat deur ruwe koppies en tans droë veld slinger. Wanneer die landskap deur die voorruit > begin daal en ek weer die Limpopovallei nader, hou ek stil vir ’n foto.

Aan die voete van die koppies staan netjiese rye lemoenbome. Dis die eiendom van Limpopo Citrus, wat lemoene uitvoer van hier tot so ver as Swede, China en Kanada. Buiten toerisme en die jagbedryf word rondom Pontdrift ook geboer met onder meer krokodille, beeste, lusern, katoen en tamaties en ander groente.

Wat die gebied ongewoon maak, is dat hierdie landbouaktiwiteite voortgaan terwyl net oorkant die rivier aan die Botswana-kant die Tuliblok lê, waar groot getalle olifante en ander wild vryelik rondloop. Later die middag vat Sandra my op ’n rit in die rivierbedding af. Ons ry in haar “boskar”, ’n 1977 Land Cruiser. Dis nog droog hier, die water-WhatsApp-groep swyg. Ons sien rooibokke, waterbokke, koedoes en dan – vier leeus! Dié ma en haar drie opgeskote welpies het oorgestap van Botswana af. Hier’s geen draad wat hulle keer nie.

Terwyl ons dus ’n kamptafel opslaan en terugsit in stoele met ’n koue drankie in die hand lê vier leeus ’n paar honderd meter verder terwyl ’n peloton olifante pas in die oewerbos verdwyn het. Agter ons, hoog teen ’n krans aan die Botswana-kant, lawaai bobbejane op pad slaapplek toe. Om als te kroon sweef ’n witkruisarend later verby. Ratho se kamp is netjies ingerig met ’n groot kombuis, kuierdek en tenteenhede wat uitkyk op ’n watergat. Later steek ek vuur aan, en braai die rol wors wat ek by John en Mariana present gekry het.

By die watergat staan olifante en smul aan ’n hoop uitskot-aartappels wat afgelaai is. Daar word gevreet en gerumoer terwyl ’n paddakoor heelnag saamraas. Die volgende oggend is die meeste van die olifante vort en sku bosbokke kyk my aan wanneer ek my koffiebeker saggies op die reling van die dek neersit. Vlakvarke, ’n familie gebande muishonde en ’n gewone ruiter kom loer ook in.

Die Limpoporivier is steeds ’n wilde plek wat net gemaak is vir mense wat g’n bang haar op hulle kop het nie. Hier is pioniers en planmakers, boere en bewaarders. Hier is mense wat wil bly, wil wérk en hulle lewe hier wil uitleef.

Ek ry hier weg met nuwe WhatsApp-vriende – en ’n kakie kortmouhemp met “Agri Bosveld” daarop geborduur. Maar ek ry ook hier weg met die Limpoporivier nou volledig ingekleur in my geheue danksy die agsame kyk van ’n bosbokooi, die melancholiese duet van waterfiskale, die stil gesag van bome veel ouer as enigeen van ons.

Ratho Bush Camps
By die Ratho Bush Camps naby Pontdrift kan gaste in netjiese selfsorgeenhede tuisgaan.
Sandra Boshoff
Laatmiddag kan jy saam met die eienaar, Sandra Boshoff skemerkelkies drink in die rivierbedding.

BLYPLEKKE

kaart
kaart

Limpopo Tented Camp

Vier selfsorgeenhede, vanaf R300 p.p. wat deel. whitehavensafaris@gmail.com; 082 808 4498 (Rudie)

Mmabolela River Camp

Twee selfsorgplaashuise, vanaf R500 p.p.p.n. www.mmabolela.co.za

Boelamien-rivierkamp

Kamp vanaf R150 p.p.p.n. en chalets vanaf R350 p.p.p.n. 082 453 8336 (WhatsApp)

Boelamien-rivierkamp
Boelamien-rivierkamp

Ratho Bush Camps

Selfsorgeenhede vanaf R700 p.n. vir twee mense wat deel. rathobushcamps.co.za

Moriti Bush Camps

Twee eksklusiewe kampplekke (vanaf R230 p.p.p.n., weeksdae) en ’n lodge (vanaf R375 p.p.p.n.). Naweke moet jy twee aande bly. moriticamp.co.za

Wat sê die mense?

Daniël Gari, Mooivlei (Rooibokkraal)

Daniël Gari, Mooivlei (Rooibokkraal)
Daniël Gari, Mooivlei (Rooibokkraal)

“Ek werk al 20 jaar op hierdie plaas. Ek lei water en sorg dat die drade in stand gehou word. Ons plant waatlemoene en buffelgras. Hier is baie wild op die plaas, soos swartwitpens, bastergemsbok, eland, rooihartbees, en natuurlik krokodille in die rivier.”

Jan Beukes, Tweerivier (Steenbokpan)

Jan Beukes, Tweerivier (Steenbokpan)
Jan Beukes, Tweerivier (Steenbokpan)

“Ek het hier grootgeword en ek en my vrou, Joan, boer met pampoene en beeste, maar hier is ook wild en ons jag met oorsese ouens soos die Spanjaarde. Maar sjoe, die hitte vang hulle hier teen dag drie, al sit jy daai ou onder die grootste koelteboom...”

Rudie du Toit, Limpopo Tented Camp (Stockpoort)

Rudie du Toit, Limpopo Tented Camp (Stockpoort)
Rudie du Toit, Limpopo Tented Camp (Stockpoort)

“Dis ’n groot voorreg om hier te wees – ek ken ook nie ander wêreld nie! Ons is baie dankbaar vir vanjaar se reën, want ons het ook brahmane. Baie Desembermaande moet ons die diere voer, maar nie hierdie jaar nie. Dis ongelooflik wanneer jy hierdie rivier met water sien. Daar is niks so kalmerend soos dit nie.”

Khumbulani Nkomo, Rakwena-krokodilplaas (Pontdrift)

Khumbulani Nkomo, Rakwena-krokodilplaas (Pontdrift
Khumbulani Nkomo, Rakwena-krokodilplaas (Pontdrift)

“In 2013 se vloed het die Motloutse en die Limpopo gelyk afgekom. Als hier was onder water en ál ons krokodille weg. Ons moes self hier vlug met ’n boot, en het twee weke lank op ’n koppie op die plaas gebly. In daardie tyd het ons ons krokodille gaan soek en gevang – ons het uiteindelik omtrent 8 000 teruggekry.’

Sandra Boshoff, Ratho Bush Camps (Pontdrift)

Sandra Boshoff, Ratho Bush Camps (Pontdrift)
Sandra Boshoff, Ratho Bush Camps (Pontdrift)

“Ja, olifante is ook mooi, maar ek maak graag my gaste bewus van die klein goedjies: die rooi fluweelmyte wat uitkom ná die reën, of spore in die sand. “Toerisme is my passie – ek hou van mense; ek hou nie van alleen wees nie. Ek ry sommer maklik Polokwane toe waar ek aan ’n fotografieklub behoort. Dis 220 km ver, maar ver is nie vir my ver nie.”

BOEK

Lees gerus River of Gold (Jacana) deur Peter Norton, Michael Gardner en Clive Walker vir ’n goeie geskiedkundige oorsig van die Limpoporivier.

* R355 by takealot.com