Ek skryf na aanleiding van lesers se menings op die Digitaal-blad in die Januarie-uitgawe, “Hoe salig die stilte...”.

Die onderwerp handel oor geraas in die kampplek en of ’n mens jou kampbure sal verkla. Ek het nog ’n vraag: Geld dit ook vir mense wat snork?

Ek wil graag weet hoe medekampeerders optree wanneer iemand langs jou opslaan en elke aand kliphard snork dat g’n mens binne 100 m geslaap kan kry nie? Moet ons wakker lê of moet jy die snorker vra om elders op te slaan?

Ek praat van ’n geval waar nie eens oorpluisies werk nie. Moet daardie kampeerder nie aan sy medemens dink en iets aan die saak probeer doen nie?

Hulle kan minder probeer snork deur byvoorbeeld die hulp van ’n “positiewe lugdrukmasjientjie” te gebruik, ’n apparaat wat kamerlug deur ’n masker in die keel blaas en só die lugweg oophou. Of moet ander kampeerders vir lief neem en snags wakker lê?

DANIE UYS* Port Elizabeth 

“Danie” het besluit dis veiliger om ’n skuilnaam te gebruik! – Red


Lees al die lesersbriewe wat in ons Maart-uitgawe verskyn hier.