Knysna lê tussen woud en water. Tog besoek toeriste dikwels net die waterfront en die bekende Knysnakoppe. Ek en my man, Robert, het egter jare gelede reeds die stilte van die woud ontdek en keer gereeld terug.

Dié woud is vol geskiedenis, soos vertel deur Dalene Matthee in Kringe in die Bos, Moerbeibos en Fiela se Kind, oor olifante wat tot uitwissing gejag is en die houtkappers se sukkelbestaan. Maar daar is ook stories van hoop – toe goud ontdek is, die bewaring van die woud, en die beloftes van ’n beter toekoms.

Vandag lê tekens van dié verlede steeds weggesteek in die bos. Ja, oor honderde jare heen het die bos dit sélf bewaar.

Die Rooted in Time-selfryroete bestaan uit tien historiese punte waar jy die Knysnawoud se stories beter leer ken. Die roete begin by die Templeman-stasie sowat 20 km noord van Knysna. Jy parkeer by die Ysterhoutrug-piekniekplek en stap op ’n paadjie wat ’n deel van die ou treinspoor volg. Terwyl jy stap, sien jy enkele verroeste oorblyfsels van die treinspoor. Die trein het hout vervoer, maar op die foto’s op die inligtingsborde blyk dit ook gewild te wees onder die inwoners – hulle sit op stoele op oop trokke. Aan die einde van die wandelpad is ’n vierkantige houtdek waar die perron eens was.

Die inwoners het die trein “Coffee Pot” genoem – die vonkvangers rondom die lokomotief se skoorsteen het dit soos ’n koffiepot laat lyk. Coffee Pot het van 1907 tot 1949 van Diepwalle sowat 30 km deur die woud gestoom tot by Thesen-eiland in die Knysnastrandmeer.

Vragte geelhout-, stinkhout- en ysterhout-stompe was by die saagmeule afgelaai; op pad na die Kaapkolonie en ook oorsee. Deesdae is Thesen-eiland ’n spogbuurt met luukse woonstelle en vakansiehuise.

Die koning Eduard VII-grootboom is een van Knysna se bekendste bosreuse. Dié 800 jaar oue kalander is die stille getuie van ’n hele paar bosstories.

Ons ry die 2 km van die Templeman-stasie tot by die afdraai na Diepwalle. Bo-op ’n heuwel begroet die Forest Legends Museum, Old Suzie en die Old Forester’s House ons.

In die Forest Legends Museum is toerusting en huishoudelike items soos oorkapbyle, treksae, wakiste en vuurskerms.

Die ou foto’s en koerantuitknipsels wys hoe moeilik die houtkappers se lewe was. Trouens, hulle het só diep in die woud gebly dat sommige in hulle leeftyd nooit eens ’n dorp gesien het nie!

Uitstalborde in die vertrek langsaan vertel die geskiedenis van Knysna se olifante. Maar dis die volledige geraamte van een van die mees suidelike olifante van Afrika wat jou stom laat. G’n wonder die bosmense was vreesbevange vir die “grootvoete” nie!

Old Suzie staan ’n entjie weg van die museum af. Die bosbouers het twee dae van die week met dié kleurryke stoommasjien krag opgewek. Sodoende kon hulle onder meer ’n wenas inspan om swaar stompe te sleep.

’n Klipgooi verder is die statige Old Forester’s House. Dié klipgebou was die Britse bosbouer David Ernest Hutchins se huis. Hutchins was verantwoordelik vir die bou van verskeie kliphuise by Gouna, Diepwalle, Harkerville en Fisantehoek. Hy het in 1882 in Suid-Afrika aangekom. Onder sy toesig was die oorblywende inheemse woud die eerste keer wetenskaplik bestuur. Hy het ook toegesien dat die denneplantasies ’n inkomste genereer.

Vandag kan jy tee drink op die Old Forester’s House se stoep. Klara Stuurman, die bestuurder van die teetuin, is bekend vir haar romerige melktert. Die varsgebakte vetkoek is ook nie te versmaai nie.

Ons ry terug na die R339 en na die Koning Eduard VII-grootboom. Die boom is een van die grootste geelhoutbome in die Knysnawoud.

Dit het ’n kroon van 36 m, ’n omtrek van 7 m en is 37 m hoog! Die boom is meer as 800 jaar oud.

Engeland is van 1901 tot 1910 deur koning Eduard VII regeer. Die boom is in 1924 na hom genoem nadat ’n groep Britse afgevaardigdes onder die boom middagete geëet het.

Die netjiese 450 m-plankiespaadjie rondom die boom is rystoel- en stootwaentjievriendelik. Hier is piekniektafels en braaigeriewe onder die koel blaredak.

Terug op die R339 groei varings geil alkante van die pad en die son spikkel deur die bosreuse se blaredak. Ons volgende stop is Veldbroeksdraai. Om destyds selfs die kleinste voertuig om dié draai te kry moes die bestuurder telkemale heen en weer ry. Gelukkig is dit nie vandag nodig nie – die pad is breed genoeg. Hier is ’n kort sirkelstaproete van 1 km. Die bos is geil en ’n mens kan net dink hoe vreesaanjaend dit toentertyd moet gevoel het in dié donker woud. In die museum het ons juis gelees van die kinders wat op mistige dae verdwaal het...

Bosbouers het die kleurryke Old Suzie ingespan om swaar stompe te sleep.
Dié skelet is in die Forest Legends-museum op Diepwalle. Die skelet is in 1983 in die Harkervillebos gevind. Die olifantbul is vermoedelik in 1973 dood aan natuurlike oorsake.
Sanparke se ontvangskantoor is oorkant die Old Forester’s House. Zane Jordaan (links)en Nathan Veldkornet, albei gebore op Knysna, beman die kantoor.
Geniet ’n koppie tee en ’n sny van Klara se melktert op die stoep van Old Forester’s House.

Bo die bos

Spitskop, ’n entjie verder noord op die R339, is letterlik en figuurlik die hoogtepunt van ons uitstappie. Op 918 m is dit die hoogste bereikbare punt in die omgewing.

Wees versigtig! Die steil grondpad soontoe het skerp draaie en los klippe. Bo gekom lê die bekende Knysnakoppe regs van jou en doer ver aan jou linkerkant rus die Robberg-skiereiland in die oseaan.

Die afdraai na die Dal van Varings sit skuins oorkant die ingang na Spitskop. Die veld van varings strek sover die oog kan sien. Party staan kuithoogte, ander kophoogte. Ons volg die 450 m-wandelpad onderdeur varings tot by ’n stroompie.

Dis tyd vir omdraai en ons volg die pad terug in Knysna se rigting tot by Kom-se-Pad.

Dié roete word goed onderhou en kronkel oor bosbedekte heuwels nog dieper die woud in. Dié pad het die Diepwalle- en Gouna-bosboustasie met mekaar verbind. Draai die motorruit af, ry stadig en ervaar die kleure en geure van die inheemse bos. Wees op die uitkyk vir die rooi vlerkswiep van ’n knysnaloerie.

Maak seker dat jy nie die afdraai na die San Ambroso-kapel misloop nie. Die roetemerker is effens versteek en ’n Katolieke kerkie skuil agter hoë bome.

In 1881 is 32 Italiaanse gesinne na die woud gebring om ’n sy-onderneming te vestig. Ongelukkig het een of ander amptenaar halwe werk gedoen en nie besef die inheemse grootblaarwildemoerbeibome (Trimeria grandiflora) is nié verwant aan die Chinese witmoerbeiboom (Morus alba) nie.

Nadat die projek misluk het, is die gesinne aan hulle eie genade oorgelaat en moes hulle ’n lewe skep as boere en houtkappers. Die kerkie is in 1891 gebou ter herinnering aan hulle lewe in die stad Treviso in die noorde van Italië. Die kerk is in 2005 gerestoureer en die geskiedenis van die Italiaanse gesinne word in twee vertrekke uitgestal. Dis oop vir besoekers.

Ons ry met Kom-se-Pad tot by die T-aansluiting met die Ou Kaapse Weg. Ons draai regs en volg die kronkelpad al langs die Soutrivier tot in die bedrywige Knysna; motors, bote, stalletjies, mense... En vir ’n oomblik wens ek ek was ’n houtkapper wat sy hele lewe in die bos deurgebring het.

Hoe lank ry ’n mens?

Die volle roete neem ongeveer vier uur, afhangend van hoe lank jy luier. Die tien stilhouplekke het duidelike roetemerkers. Kry ’n roetekaart by Sanparke se kantore op Thesen-eiland of Diepwalle, of laai een hiér af by sanparks.org.

Koste: Gratis behalwe vir ’n bewaringstarief van R38 p.p. by die Koning Eduard VII-grootboom. Plaas gerus ’n skenking in die houer by die San Ambroso-kapel.

Kontak: Tuinroete- nasionale park (Knysna-deel) 044 302 5600

Bron: knysnamuseums.co.za; Rooted in time-brosjure

Op die platform by die Tempelman-stasie kan jy jou maklik verbeel dat die trein steeds in die donker bos fluit.
Vertel ons van jou avontuur!

Was jy op ’n vakansie wat jy dink ander Weg-lesers ook sal geniet? Skryf oor die ervaring en ons publiseer dalk jou storie. Hou dit asseblief kort (maksimum 1 500 woorde) en stuur ’n paar voorbeeldfoto’s.

As ons wel besluit om die storie te gebruik, gaan ons oorspronklike hoëresolusiefoto’s nodig hê; maak dus seker jou kamera is op die regte verstelling. Stuur jou storie na redakteur@weg.co.za.

Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za.