Doringlaagte is ’n gewilde vakansieoord sowat twee uur se ry oos van die Kaap, met meer as genoeg om te doen vir die hele gesin. As jy jou wa met jou 4x4-voertuig sleep – of sommer net op soek is na ’n nuwe veldry-uitdaging – het die mense hier nou ’n klompie nuwe 4x4-roetes uitgelê.

Die roetes bring jou tot by plekke met pragtige uitsigte oor die omgewing en sal jou tuis laat voel in die natuur. Hier kan jy vir ’n rukkie wegbreek van die gewoel van die kampterrein.

Hier is drie verskillende roetes wat jy kan kombineer om een lang roete te ry, óf jy kan die drie afsonderlike roetes op hulle eie aandurf. Almal saam behoort jou sowat drie uur agter die stuur besig te hou, waarna jy jouself ken bederf met ’n vleisie op die kole by die braaiplek langs die roete wat oor die oord uitkyk.

Hierdie roetes is nie begin om jou voertuig te probeer breek nie en elke hindernis het ’n kuikenpaadjie ingeval jy nie die mas opkom nie of bang is jy maak jou ryding seer.

Die roete is duidelik met pyle uitgemerk, en indien jy enigsins nog twyfel, kry jy ook ’n kaart saam om jou te wys waar jy moet ry. Jy betaal een keer om te kom ry, en dan kan jy vir die duur van jou kuier by Doringlaagte kom speel. As jy dus vandag ry en besluit jy wil ’n bietjie by die roete se braaiplek kom uitspan, kan jy môreoggend jou mandjie pak en weer op die hindernisse kom speel.

Hier is ook ’n alternatiewe speelplek vir die 4x4-entoesias wat sy trokkie behoorlik wil toets en meer as net die roete wil ry. Die gruisgat is ’n ordentlike speelplek waar soms 4x4-kompetisies gehou word. Hier sê manne in pypkarre en spesiaal aangepaste voertuie mekaar die stryd aan. Dit is egter nie net vir hardebaarde nie, en selfs al is jy ’n beginner, kan jy jou ryding se litte lekker losmaak.

Doringlaagte het ’n groot kampterrein rondom ’n dam. Hier is groot koeltebome en grasperke met oorgenoeg speelplek vir die kinders. Hier is ook ’n speelpark met ’n trampolien, swaaie en klimrame en twee swembaddens wat toegespan is vir veiligheid.

Hier is drie verskillende roetes wat jy afsonderlik kan ry óf aanmekaar kan las vir een lang roete wat jou vir sowat drie uur sal besig hou. Ervare veldryers én groentjies kan hier kom speel en daar is kuikenroetes by al die hindernisse as jy bang is jy gaan nie die pyp rook nie of bang is jy maak jou kar seer.
Span uit! Doringlaagte is ’n gesinsoord in murg en been, en as jou mense nie so gaande is oor ewenaarslotte en laestrekratte soos jy nie, is hier meer as genoeg om hulle te vermaak. Boonop is hier talle verblyfopsies beskikbaar.

Langs die dam lê kano’s wat gratis vir enigiemand se gebruik is, maar onthou om jou eie reddingsbaadjie te bring. Terwyl die kinders in die water baljaar, kan jy langs die “Karoostrand” uitspan en af en toe vir jou ’n koue lafenis in die kroeg gaan haal. Die kroeg het selfs sy eie binnenshuise warmwaterswembad waar kinders nie toegelaat word nie.

Die jongspan kan hulle egter by die strand vermaak met die foefieslaaid en roeibootjies. Oral is groen grasperke en afdakke vir koelte.

Vir die gholfspelers is hier ook ’n interessante baan met een groot setperk. Die laaste bof is bo-op ’n koppie, sowat 50 m hoog en 200 m na die setperk toe. Van die bof af het jy ook ’n mooi uitsig oor die hele oord. Jy het nie ’n viertrekvoertuig nodig hom hier uit te kom nie, maar wel ’n goeie grondvryhoogte.

Hier is ook bergfietsroetes en ’n klompie staproetes vir kranige voetslaners en voëlkykers.

Wat verblyf betref, is hier drie keuses: Jy kan kamp, in ’n selfsorgeenheid bly of, as jy van weelde hou, in een van die glanskamperingtente tuisgaan.

Jy hoef egter nie die heeltyd by Doringlaagte te bly nie. Jy kan ook ’n draai gaan ry, want hier is heelwat te sien en doen in die omgewing. Hier is wynplase en lekker restaurante vir wanneer jy moeg raak vir braaivleis. Die vrugteplase in die omgewing is ook ’n besoek werd om droëvrugte aan te skaf. Montagu se buurdorp Barrydale het boonop ’n ryk geskiedenis en hier is heelwat kuns en ander kreatiewe werke wat toeriste lok.

Hier is ook bergfietsroetes en ’n klompie staproetes vir kranige voetslaners en voëlkykers.
Wat jy moet weet

Maksimum getal voertuie: 20

Kry ek 'n kaart? Ja.

Sal my voertuig krap? Daar word gereeld onderhoud gedoen op die roete, maar wees versigtig vir die bosse langs die roete.

Kan ek langs die pad braai? Ja.

Kan ek halfpad omdraai? Ja.

Is daar selfoonsein? Ja.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan: Heeljaar.

Kan ek my gesin saamneem? Ja, beslis.

Net vir die dag of die naweek? Ten minste die naweek.

Is daar ablusiegeriewe? Ja.

Aanwysings: Vat die N1 uit Kaapstad, draai by Worcester af en vat die R60 Robertson toe. Bly op dié pad en hou reguitaan tot op die R62 na Ashton en dan Montagu. Ry reguit deur Montagu en draai dan sowat 2 km buite die dorp links op die Oubergpad. Ry 2,9 km en jy sal die pad met die Doringlaagte-bord aan jou regterkant sien.

Prys: R250, wat jou vir vir die duur van jou besoek toegang gee tot die roetes en hindernisbaan.

Kontak:

072 021 9069 of 083 707 1859  

info@doringlaagte.com  

doringlaagte.com

GPS: S33.79838 E20.17225