As kind was Stilbaai ons gesin se Desemberbestemming. Ek het met my eie oë gesien hoe dié klein kusdorp in ’n paar jaar uit sy nate bars, en verkeersknope en winkelsentrums aan die orde van die dag is. Die dorp het ’n opbloei beleef.
Maar hierdie storie gaan nie oor Stilbaai nie. Op ’n kaart van Yzerfontein sien ’n mens dis ook ’n dorp wat skielik groot geraak het: Die ou dorp skaar hom by die hoofstrand met nuwe uitgestrekte woonbuurte wat soos traliewerk op die landskap verder weg lê. Die nuwe deel lê in ’n smal strook langs die kus sodat elke strandhuis ’n see-uitsig het. Van die strandhuise se verf is nog nat.
Wat maak Yzer anders as dorpies soos Stilbaai, Hartenbos of Jeffreysbaai? Ten spyte van die ghrênd Sparkompleks, en die menigte strandhuise en mense, vóél Yzerfontein nog soos ’n Weskusdorpie.