Chorizo-en-soetpatat-burgers

akkreditasie
’n Meer gesonde, maar smaaklike burger het jy nog nooit geproe nie.

Vir 8

Voorbereityd 20 minute

Gaarmaaktyd 15 minute

Jy benodig

  • 200 g chorizo, vel verwyder
  • 12 varkworsies, vel verwyder
  • 1 teelepel gerookte paprika
  • 4 eetlepels suurlemoensap
  • 4 grasuie, gekap
  • 1 koppie gaar soetpatat, fyngedruk
  • ’n bossie vars koljander, gekap
  • 1 blik (410 g) rooi boerbone, gedreineer en afgespoel
  • 2 eiers

Só maak jy

1 Pols die eerste ses bestanddele en die helfte van die koljander in ’n voedselverwerker tot goed gemeng. (Of kap dit fyn en meng dit baie goed.) Voeg die res van die koljander en die bone daarby en pols net ’n paar keer vinnig om te kombineer. Jy wil die bone net rofweg opbreek sodat dit aan die patty ’n lekker growwe tekstuur kan gee. Meng die eier deur die mengsel.

2 Knyp ’n klein stukkie van die mengsel af en braai dit in warm botter. Proe die stukkie gaar vleis en besluit of jy nog iets wil bysit. Verdeel dan die mengsel in 8 vet patties.

3 Plaas die patties vir ten minste 30 minute in die yskas om af te koel en te stol. Dit is beter om patties te braai as dit goed afgekoel is, anders val dit uitmekaar.

4 Maak die plat plaat van ’n ketelbraai baie warm (of gebruik ’n pan) en smelt twee eetlepels botter of kookolie daarop. Plaas die patties op die plaat en verlaag die temperatuur sodra die botter begin borrel. Braai dit vir ongeveer 10 minute, of tot goudbruin, teen ’n matige temperatuur aan die een kant. Moenie die patties rondskuif nadat jy dit op die plaat neergesit het nie – gee die onderkant kans om eers ’n bros lagie te vorm en die patties om stewig te raak. As jy met dit vroetel, gaan dit uitmekaar val. As jou ’n ketelbraai met ’n deksel het, sit dit op – die patties sal vinniger gaar word.

5 Draai die patties om en braai hulle vir ongeveer 5 minute aan die ander kant tot goudbruin en heeltemal gaar. Sit dit voor op broodrolletjies met guacamole en suurroom.

Wenk
Plaas ’n laag kleefplastiek op ’n bord, pak die rou patties daarop en vries dit oornag. Die volgende dag kan jy die stapeltjie gevriesde patties met ’n vel waspapier tussen-in in ’n Ziploc-sakkie verpak en dit dan weer in die vrieskas bêre. Haal die patties 30 minute voor jy dit wil gaarmaak uit die vrieskas.