Deel

Baksteenhoender

akkreditasie
Italiaans
Italiaans
Die Italianers maak só: Sit ’n baksteen bo-op ’n plathoender terwyl jy dit braai – en siedaar! Die velletjies is bros, maar die vleis nog sappig. En boonop word jou hoendertjie gouer gaar.

Jy benodig

• 1 heel hoender, gevlek

• sap van ½ suurlemoen

• 1 eetlepel sout

• 1 teelepel gerookte paprika

• 2 knoffelhuisies, fyngekap

• 3 cm vars gemmer, gerasper

• 2 eetlepels vars roosmaryn of tiemieblare, gekap

• 3 eetlepels olyfolie

VIR DIE SUURLEMOENSOUS

• 1 rooiui, gekap

• 2 eetlepels olyfolie

• skil en sap van 2 suurlemoene

• ½ koppie heuning

• ’n knippie swartpeper

Só maak jy

1. Vra die slagter om die hoender te vlek en die borsbeen te verwyder indien jy nie weet hoe nie. Sit die gevlekte hoender met die borskant na bo in ’n groot bak. Druk dit plat, vou die vlerkies onder die karkas in, en posisioneer die dye langs die bors. Gebruik ’n skerp messie en maak twee snitte van 1 cm diep dwarsoor die bors en nog een oor die dikste deel van elke dy.

2. Meng die res van die bestanddele saam en smeer die hoender goed daarmee in. Sit dit vir 1 uur (maar verkieslik oornag) in die yskas.

3. Trek twee bakstene met foelie oor en kry jou kole gereed – jy het matige hitte nodig. Sorg dat die rooster skoon is. Sit die hoender met die velkant na onder op die rooster en sit die twee bakstene bo-op neer sodat dit die hoendertjie lekker platdruk. Braai dit vir sowat 15 minute totdat die vel bros en bruin is. Draai die hoender met ’n braaitang en sit weer die bakstene op. Ná nog 15 minute kan jy hom maar afhaal. As jy nou die dikste deel van die dy sny, behoort die sap wat uitloop, helder te wees.

Laat die hoender vir nog 15 minute eenkant onder foelie rus.

4. Maak die suurlemoensous: Braai die ui in die olie tot sag. Rasper dan die suurlemoen se skil direk in die potjie en druk daarna die sap in die potjie uit. Voeg die heuning en swartpeper by en laat dit prut totdat die mengsel verdik het – ongeveer 10 minute.

5. Verf die hele hoender met die sous en sit dit dadelik voor.

WENK
Dié sous is ook heerlik oor hoenderboudjies wat in die oond gebak is.