Koffie-en-toffiepoeding

akkreditasie
Hierdie koffie-en-toffiepoeding maak sy eie karamelsous en is ’n regte staatmaker as jy iewers in die bos kamp.

FOTO'S MYBURGH DU PLESSIS

Vir 8

Voorbereityd 10 minute

Baktyd 40 minute

Jy benodig

  • 1¼ koppie meel
  • 1 eetlepel bakpoeier
  • ’n knippie sout
  • 4 eetlepels botter
  • ½ koppie baie sterk koffie, afgekoel
  • 1 teelepel vanieljegeursel
  • 1 koppie bruinsuiker
  • ½ koppie gouestroop
  • 1 koppie room (of ingedampte melk), verkoel

So maak jy

  1. Sif die droë bestanddele saam in ’n klein swartpot met ’n deksel, of in ’n oondvaste bak. Smelt die botter en voeg dit saam met die koffie en geursel daarby. Roer dit een of twee keer liggies deur, maar moenie dit te veel meng nie.
  2. Sprinkel die bruinsuiker oor die beslag en gooi dan die gouestroop en laastens die room oor, sonder om dit enigsins te roer. Dit lyk dalk soos ’n flop, maar hou moed!
  3. Bak die poeding vir 40 minute of langer in die swartpotjie met ’n paar kole op die deksel (of teen 180 °C sonder ’n deksel in die oond) totdat die bolaag goudbruin en gaar is en ’n dik sous onderin gevorm het. Laat dit vir ’n paar minute rus en sit dan voor.

    Wenk
    Vervang die koffie met ¼ koppie gekapte dadels wat in ’n ½ kookwater en ½ teelepel koeksoda geweek is.