RESEP | Platbrood

akkreditasie
Platbrood is net so maklik om te maak soos potbrood, en ’n ewe groot gunsteling van kinders en grootmense. Eet dit met doopsous as ’n voorgereg of sit allerhande interessante goed soos kouevleis, kaas en slaai bo-op – amper soos ’n pizza.

Vir 10 brode

Jy benodig

  • 2 sakkies (10 g elk) gis
  • 1 eetlepel suiker
  • 1 kg witmeel
  • 1 eetlepel fyn sout
  • 4 eetlepels olyfolie
  • 2½ koppies louwarm water

SPESERYMENGSEL (opsioneel)

  • 3 eetlepels za’atar-speserye (Libanese speserymengsel), of droë tiemie
  • 3 eetlepels sesamsaad
  • 5 eetlepels olyfolie

Só maak jy

1 Meng die gis en suiker met die water. Plaas al die meel, sout en olie in ’n groot bak en voeg die water daarby. Meng alles saam en knie dit vir 10 minute. As die deeg te droog is, gooi nog ’n bietjie water by. As dit te slap is, kan jy ’n klein bietjie meel byvoeg.

2 Vorm ’n groot bal, smeer dit met ’n bietjie olie in en bedek dit met kleefplastiek. Los dit in ’n warm plek en wag tot die deeg in hoeveelheid verdubbel het.

3 Breek stukke nagenoeg so groot soos ’n baie klein suurlemoen af en rol dit met jou hande in ’n bolletjie. Rol dit dan met ’n koekroller 3-4 mm dik uit op ’n meelbestrooide oppervlak. 

4 Sit dit op ’n rooster en braai dit oor matige warm kole totdat dit effens oppof aan die een kant. Draai dit om en braai dit aan die ander kant vir ’n minuut of tot gaar. Pasop dat dit nie te swart brand nie.

5 Maak die speserymengsel. Meng die olyfolie met die speserye en sesamsaad. Smeer dit oor die warm platbrode en eet dit dadelik.