Sjokoladetorte

akkreditasie
’n Resep uit Kondensmelk – almal se gunsteling, deur Cleta Joannou.

Lewer 1 groot tert

Jy benodig

  • 250 ml (1 koppie) melk
  • 2 pakkies (200 g elk) Boudoir®-vingerbeskuitjies
  • 2 blikkies (385 g elk) kondensmelk
  • 400 g donkersjokolade, gekap
  • 1 pot (350 g) Nutella® (sjokoladehaselneutsmeer)
  • 500 ml (2 koppies) vars room, geklop
  • sjokoladekrulle vir versiering
Só maak jy

1 Smeer ’n 23 cm-losboomkoekpan. Giet die melk in ’n vlak bak en doop die helfte van die beskuitjies een-een in die melk en pak dit dan op die boom van die koekpan in ’n enkellaag.

2 Verhit die kondensmelk oor lae hitte totdat dit kook en laat dit dan 6 minute prut terwyl jy aanhoudend roer. Haal dit van die stoofplaat af en voeg die sjokolade by. Hou aan roer tot die sjokolade gesmelt het en dit goed gemeng is. Voeg die Nutella by. Giet die helfte van die sjokolademengsel oor die beskuitjies. Doop die orige beskuitjies in die melk en rangskik nog ’n laag beskuitjies bo-op die sjokolademengsel. Giet die orige sjokolademengsel oor en plaas dit in die yskas om te stol.

Wenk
Bedek die tert ruimskoots met die geklopte room en versier dit met sjokoladekrulle net voor jy dit voorsit.