Deel

RESEP | Appeltert uit 'n blik

akkreditasie
Foto: Ruvan Boshoff
As ’n geblikte appel jou ’n bietjie droewig laat, maak dan ’n appeltert in ’n japtrap!

Slim kortpad vir ’n soettand

Party mense sal dalk sê dié appeltert se kors is ’n verneukspul, maar probeer dit net een keer en jy sal nooit weer met deeg staan en sukkel nie.

Jy benodig

  • 2 groot blikke (765 g elk) tertappels
  • botter
  • 200 g donker bruinsuiker
  • 1 pakkie gemmerkoekies
  • 1 pakkie Tennis-beskuitjies
  • 1 koppie gouestroop

Só maak jy

1 Verhit ’n platboompot oor warm kole.

2 Braai die appel in botter totdat die stukke kokend warm is en voeg dan die suiker by.

3 Roer die mengsel aanhoudend totdat die suiker effens begin karamelliseer.

4 Druk die koekies fyn en voeg die gouestroop by. Meng dit goed en skep dan ’n laag van die krummelmengsel bo-oor die appels.

5 Krap ’n paar kole weg en sit die pot se deksel op.

6 Los die pot doodstil vir 15-20 minute sodat die kors bo-op kan bros bak.

7 Skep die appeltert in bakkies en sit dit voor saam met geklopte room of ’n bietjie vla.

Ry & Sleep sê
Vir ’n meer tradisionele tert kan jy kaneel en rosyntjies byvoeg, maar vir ons gee die gemmer in die koekies klaar ’n baie lekker geur.