Jy benodig (genoeg vir 6)

  • 1 kg baba-aartappels
  • sonneblomolie vir diepbraai
  • Aromat (of gebruik jou gunstelingspeserymengsel)

Só maak jy

1. Kook die aartappeltjies in soutwater tot net gaar maar beslis nie pap nie. Dreineer die aartappels, keer dit uit op ’n kapplank en druk hulle een-een plat met ’n breëlemmes of die onderkant van ’n blikbeker. Die skilletjies moet bars en die aartappels moet ’n bietjie vleis wys, maar onthou, jy maak nie kapokaartappels nie; die aartappels moet bymekaar bly sodat jy hulle kan hanteer.

2. Verhit 2 cm kookolie in ’n potjie en braai die aartappels in sarsies tot goudbruin en bros. Dreineer hulle op kombuispapier en braai die res van die aartappels ook tot mooi goudbruin.

3. Geur die aartappels met lekker baie Aromat en sit dit warm voor.

Ry & Sleep sê: In jou eie kombuis kan jy dié gebreekte aartappels in ’n mengsel van botter en olie bak pleks van diepbraai. Verhit dan die oond tot 200 ºC.