book-icon Uitgawe Julie 2018
Deel

RESEP | Beesvleis-en-groenboontjiepotjie in ’n sjerriesous

akkreditasie
Foto Jan Ras
Foto Jan Ras
As jy nie vars groenboontjies kan kry nie, werk die bevrore soort baie goed vir dié resep.
Kosassistent Tani Kirsten

Groenboontjie kry sy loontjie

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2 eetlepels olie
  • 750 g stowebeesvleis, in blokkies gesny
  • sout en swartpeper na smaak
  • 1 groot ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 eetlepel tamatiepasta
  • 1 koppie mediumroom-sjerrie
  • 1 roosmaryntakkie (of gebruik 1 teelepel droë roosmaryn)
  • 1-2 koppies biefaftreksel
  • 4-6 middelslag-aartappels, geskil en in kwarte gesny
  • 300 g groenboontjies

Só maak jy

1 Verhit die olie in ’n swartpot en braai die vleis in sarsies bruin – geur elke sarsie met sout en swartpeper soos wat jy dit braai en hou dit eenkant soos wat jy die gaar vleis uitskep.

2 Braai die ui in dieselfde pot tot sag en geurig maar nie bruin nie, en voeg dan die knoffel en tamatiepasta by. Braai die mengsel vir ’n minuut saam.

3 Voeg die sjerrie, roosmaryn en vleis by. Gooi dan genoeg aftreksel by sodat die vleis net-net bedek is. Sit die deksel op en prut die pot vir sowat 45 minute. Voeg dan die aartappels by en prut vir nog 30 minute of tot die aartappels amper sag is.

4 Roer die groenboontjies by sodra die vleis en aartappels sag is en prut dit vir 10-15 minute. Hou die deksel af as dit nog baie souserig is óf gooi nog aftreksel by as die vloeistof te min raak.

Weg Ry & Sleep sê
Die kuns is om die vleisblokkies vinnig oor ’n hoë hitte te braai sodat die vleis seël en die sappe binne bly. Moet dus nie te veel blokkies op een slag probeer braai nie, want dan gaan dit stoom eerder as braai en nie net water trek nie, maar boonop taai raak.