Deel

RESEP | Bierblikhoender in ’n ketelbraai

akkreditasie
Met hierdie resep kom die vog van binne... Die bier sorg nie net dat die hoender sag is nie, maar saam met die lemoen en kruie ook vir ’n onverbeterlike geur.

Jy benodig (vir 4-6 mense)

  • 3 eetlepels olie
  • 2 teelepels gekapte knoffel
  • 1 teelepel fyn komyn
  • 1 teelepel fyn koljander
  • 1 teelepel fyn kaneel
  • ¼ koppie marmelade
  • 1 heel hoender
  • sout en gemaalde peper
  • 1 blik (330 ml) bier
  • 4 lemoene, middeldeur gesny

Só maak jy

1 Maak vuur in ’n ketelbraai (soos ’n Weber) en meng solank die olie, knoffel, speserye en marmelade terwyl jy kole maak.

2 Vryf die hoender oraloor in met die speserymengsel in en geur die maagholte met sout en peper.

3 Maak die bier oop en neem een slukkie – dis die braaier se voorreg. Sit die hoender regop bo-oor die bierblik, en sit dit dan versigtig op die rooster sodat hy stewig staan. Sit die ketelbraai se deksel op. Braai die hoender vir 45-60 minute oor matige kole. Sit teen die einde van die gaarmaaktyd die lemoenhalwes op die rooster en skroei hulle vinnig.

4 Haal die gaar hoender versigtig van die bierblikkie af en sny dit in stukke. Skink van die orige bier as ’n sous by en druk van die lemoensap oor. Maak ’n snytjie in die dikste deel van die bors om te kyk of die hoender gaar is. As die vleissappe helder uitloop, is die hoender gaar. Sit dit dadelik voor.

Ry & Sleep sê
As jy nie ’n ketelbraai het nie, kan jy die hoender ook vir 40-45 minute in ’n oond van 180 °C bak.