Deel

Bobotie

akkreditasie
Bobotie is ’n Suid-Afrikaanse gunsteling en ’n belangrike deel van ons kookkunserfenis. En ja, jy kan bobotie op ’n braaivuur gaarmaak.

Jy benodig:

  • 1 sopie olie
  • 3 uie (fyngekap)
  • 3 huisies knoffel (fyngekap)
  • 2 sopies kerriepoeier (matig)
  • ½ sopie borrie
  • 1 kg beesmaalvleis
  • ½ sopie sout
  • 1 teelepel swartpeper
  • ½ koppie appelkooskonfyt
  • ½ koppie rosyne
  • ½ koppie amandelvlokkies
  • 1 sopie asyn (of suurlemoensap)
  • 5 lourierblare
  • 3 eiers
  • 1 koppie melk
  • rys (om voor te sit)
  • blatjang (om voor te sit)

Maak so:

1. Braai die uie en knoffel. Verhit die olie in ’n potjie op ’n medium-warm vuur en braai die uie en knoffel totdat die uie sag is, maar nie bruin nie.

2. Kerrie dit… Voeg die kerriepoeier en borrie by en braai vir ’n minuut. Die potjie se bodem sal nogal droog lyk. Pasop dat die mengsel nie aanbrand nie en gaan betyds aan met die volgende stap.

3. Pasop vir brand. Gooi die maalvleis in en braai vir sowat 10 minute, roer en breek enige klonte met ’n houtlepel. Die maalvleis moet van rooi na bruin verkleur, maar moenie brand nie. Die vleis behoort in ’n stadium sap af te skei. Gebruik dié vloeistof en jou lepel om enige stukkies wat onderin die pot begin “haak”, los te wikkel.

4. Laat prut die spulletjie. Gooi die sout, peper, appelkooskonfyt, rosyne, amandelvlokkies en asyn by. Roer alles deeglik deurmekaar. Sit die deksel op en laat dit vir sowat 15 minute prut. Roer nou en dan sodat dit nie aanbrand nie.

5. Vir die bolaag. Haal die potjie se deksel af en druk die inhoud effens plat met jou lepel. Klits die eiers en die melk saam in ’n klein mengbak en gooi oor die bobotie. Steek die lourierblare in die eiermengsel. Sit die potjie se deksel weer op en laai ’n laag warm kole op die deksel (nie onder die potjie nie). Bak die bobotie vir sowat 30 minute.

6. Sit voor. Sit voor met rys en blatjang.

Wenk:
Party mense hou ook van gesnyde piesang, klapper of gekapte tamaties saam met hul bobotie. Bedien watter sambals jy ook al verkies.