Bobotie in ’n pakkie

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 eetlepel sterk kerriepoeier
  • 1 eetlepel olyfolie
  • 500 g beesmaalvleis
  • 2 eetlepels perskeblatjang plus ekstra om voor te sit
  • 2 eetlepels fyn klapper
  • 1 teelepel fyn borrie
  • 1 lourierblaar
  • 2 eetlepels appelasyn
  • sout en swartpeper na smaak
  • 6 wraps
  • 1 koppie Griekse jogurt
  • 1 koppie gerasperde cheddar

Só maak jy

1. Braai die ui, knoffel en kerriepoeier in die olyfolie tot die groente sag is. Roer die maalvleis bietjies-bietjies by en braai dit tot mooi goudbruin.

2. Voeg die blatjang, klapper, borrie, lourierblaar en asyn by en prut alles saam vir 20 minute. Proe en geur dit na smaak met sout en peper.

3. Vul die wraps een vir een met 1 eetlepel jogurt en ’n goeie paar skeppies van die maalvleismengsel. Rol die wraps op en pak dit in ’n platboompotjie of gietysterpan. Skep die res van die jogurt oor die middel van die wraps en sprinkel die kaas eweredig oor.

4. Sit die deksel op en sit dan die pot of pan oor matige kole. Skep ’n paar kole op die deksel en bak dit vir 15 minute. Sit die enchiladas warm voor met ekstra blatjang.

Weg Ry & Sleep sê
Jy kan die bobotiemengsel vooraf maak en vries – dan eet julle sommer in ’n japtrap by die kampterrein.