Kosassistent Tani Kirsten

Heerlik – dís nou maar wors!

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2 eetlepels olie
  • 700 g boerewors
  • 1 groot ui, gekap
  • 250 g sampioene, gesny
  • ½ koppie droë witwyn
  • 10 jong aartappels
  • 1 pakkie (26 g) kitsbruinsous (ons het Knorr Instant Gravy gebruik)
  • ’n halwe kop broccoli, in blommetjies gebreek
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Verhit die olie in ’n swartpot en braai die wors tot dit goudbruin en gaar is. Skep die wors uit, sny die wors in happiegrootte stukkies en hou dit eenkant.

2 Soteer die ui en sampioen in die wors se sous tot sag. Roer dan die wyn en aartappels daarby in.

3 Maak die pakkie bruinsous aan volgens die aanwysings op die pakkie en roer dit deur die pot.

4 Prut die potjie vir 20 minute en roer dit gereeld sodat dit nie vasbrand nie. Voeg die broccoli by, geur die pot met sout en peper, en prut dit vir nog 10 minute tot gaar.

5 Skep die wors terug in die pot en verhit dit tot alles mooi deurwarm is. Sit dit voor met krummelpap.

Weg Ry & Sleep sê
Jy kan enige tyd die broccoli met spinasie of groenbone vervang, indien verkies.