Foto Shelley Christians

Vir 12

Voorbereityd 1 uur, plus afkoeltyd vir die vulsel

Gaarmaaktyd 1 uur

Jy benodig

  • 1 groot aartappel, in klein blokkies gesny
  • 1 koppie elk hoenderaftreksel en melk
  • 2 eetlepels botter
  • 2 eetlepels meel
  • 2 koppies gaar hoender, gevlok
  • 1 koppie bevrore groente (ek het mielies, ertjies en wortels gebruik)
  • 1 teelepel skerp mosterd
  • 2 takkies pietersielie, gekap
  • sout en peper na smaak
  • 1 rol (400 g) bevrore brosdeeg, ontvries
  • 1 eier, geklits

 Só maak jy

1 Kook die aartappel vir ongeveer 5 minute in die aftreksel tot net sag. Skep dit uit en hou eenkant. Smelt die botter oor matige hitte in ’n kastrol. Voeg die meel by en klits dit met ’n ballonklitser tot glad (dié mengsel word ’n roux genoem) voordat jy dit net vir ’n minuut laat braai tot skuimerig.

2 Verwyder die kastrol van die hitte en klits die melk en aftreksel geleidelik by tot glad. Sit dit terug op die hitte, voeg die gaar aartappel, hoender en groente by en kook oor matige hitte tot verdik. Roer die mosterd en pietersielie deur en geur na smaak met sout en peper. Laat die pasteivulsel heeltemal afkoel terwyl jy intussen die oond voorverht tot 180 °C.

3 Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit en druk met ’n glas of koppie sirkels uit wat in die holtes van weggooibare foeliepasteibakkies pas. (Dié wat ek gebruik het, was 7 cm in deursnee en 3 cm diep). Sny twee sirkels per holte uit: een vir die kors van die pastei en een vir sy deksel.

4 Vul die deegholtes met die hoendervulsel, verf die rande met eier en sit die deegdekseltjies bo-oor. Sny enige deeg wat oor die foeliebakkies se kante hang af en druk die deegrande met ’n vurk se tande om dit goed te seël. Maak ’n gaatjie in elke deksel sodat die stoom kan ontsnap.

5 Rangskik die pasteie op ’n bakplaat, verf geklitste eier oor en bak sowat 25 minute of tot goudbruin en gaar. Sit dit warm of teen kamertemperatuur voor.

WENKE
  • Klein pasteitjies soos dié is gerieflik om as padkos in te pak, maar dit vra vir baie deeg en moeite. Dis veral aan die begin nog nie so maklik om te weet presies hoe dik jy die deeg moet uitrol nie. Hou maar ’n ekstra rol brosdeeg byderhand in geval jy dalk ’n deegsirkel of twee kortkom.
  • As jy met minder deeg moet uitkom, stel ek voor jy skep op elke deegsirkel ’n lepel vulsel en vou dit dan in halfmaantjies toe. Pas die baktyd aan na gelang van die pasteitjies se grootte.