book-icon Uitgawe Oktober 2019
Deel

RESEP | Bros hoenderrepies met pruimsous

akkreditasie
Foto: Ed O’Riley
Foto: Ed O’Riley
Wanneer die lus vir krummelhoender jou pak, is dié bros karringmelkrepies net die regte medisyne.

Genoeg vir: 4

Bereidingstyd: 20 minute plus 1 uur marineertyd

Gaarmaaktyd: Sowat 15 minute

Jy benodig

• 400 g hoenderfiletrepe

• 1 koppie karringmelk (plus 2 eetlepels ekstra)

• ½ teelepel elk sout en swartpeper

• ’n groot knypie rissiepoeier

• ’n strooisel paprika

• 1 koppie bruismeel

• 1 teelepel bakpoeier

• olie vir braai

• ½ koppie gekoopte pruimsous

• ’n bros slaai om voor te sit – ek het blare, wortellinte en radysskyfies gemeng

• ½ koppie kasjoeneute, gekap

• 8 bros taco’s of klein tortillas, verhit

• mayonnaise om voor te sit

Só maak jy

1 Meng die hoender in ’n glasbak met die koppie karringmelk en speserye en laat staan dit vir sowat ’n uur tot die hoender doeksag is.

2 Meng die bruismeel en bakpoeier in ’n tweede bak saam. Roer dan die 2 ekstra eetlepels karringmelk daarby tot die mengsel krummels vorm. Rol die hoenderrepe een-een in die krummels tot dit oraloor bedek is, en hou dit eenkant.

3 Verhit 2 cm olie in ’n potjie en braai ’n paar repe op ’n slag tot goudbruin, bros en gaar. Skep dit uit op kombuispapier.

4 Drup nou die pruimsous oor die hoender. Verdeel die hoenderrepies saam met die slaai en neute tussen die taco’s en rond dit af met ’n leksel mayonnaise. Smul terwyl die hoender nog warm is.

WENK: Repies avokadopeer, komkommerskyfies en gekapte kool is lekker byvoegings tot dié dekadente taco’s (en jy rek dit!)