Vir 8 | Voorbereityd 5 minute | Gaarmaaktyd 20 minute


Hierdie is een van daai eenvoudige bykosse wat nie net mooi lyk op ’n tafel nie, maar die meeste mense hou ook daarvan. As jy vir baie mense kosmaak, kan jy jou lensies self kook, maar die gebliktes is net so lekker as jy haastig is.


Jy benodig

• 1 klein Franse brood
• ¼ koppie olyfolie, plus ekstra
• 2 knoffelhuisies
• 300 g kersietamaties
• 6 eetlepels balsemiekasyn
• 1 eetlepel suiker
• 250 g spekrepies
• 2 eetlepels heuning
• 2 blikkies (400 g elk) lensies (of kook 2 koppies droe¨ lensies)
• 1 eetlepel heelkorrelmosterd
• 3 eetlepels sojasous (of ’n knippie sout)
• ’n knippie swartpeper
• ’n hand vol basilieblare (opsioneel)


Só maak jy

1. Maak eers die croutons deur die brood in skywe te sny, met olyfolie te besprinkle en dit in die oond of oor die kole bros te braai. Sny die knoffelhuisies middeldeur en vryf die gesnyde kant net ’n paar keer oor elke sny warm roosterbrood – dit kry dan ’n heerlike knoffelsmakie. 
2. Meng die olyfolie, tamaties, balsemiekasyn en suiker in ’n warm pan en braai dit oor die vuur (of rooster dit in ’n warm oond) totdat die tamaties begin karamelliseer en die velletjies oopbars. Haal dit van die hitte af. 
3. Braai die spekrepies bros en gooi die olie af. Bedruip dan die spek met heuning en braai dit vir nog 2 minute.
4. Spoel die lensies onder lopende water af en sprei dit uit in ’n opdienbak. Rangskik die tamaties bo-op. Meng die mosterd, sojasous en swartpeper met die pansappe van die tamaties en giet dit ook bo-oor.
5. Rangskik die spek en croutons bo-op die tamaties en sprinkel die basilieblare oor. As die slaai eers later gee¨et gaan word, is dit beter om die croutons eers eenkant te hou – behalwe natuurlik as jy dit sag en vol van die slaai se sappe verkies.