Kosassistent Tani Kirsten

Rys en lekker!

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 1 koppie bruin-en-wilderysmengsel
  • 2 rooi of geel soetrissies
  • 1 blik (400 g) kekerertjies, afgespoel
  • 1 klein rooiui, in dun ringe gesny

VIR DIE SLAAISOUS

  • 1 teelepel komynsaad
  • 100 ml olyfolie
  • 2 eetlepels witwynasyn
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Kook die rys volgens die instruksies wat op die pakkie aangegee word. Dreineer en hou dit eenkant tot jy dit nodig kry.

2. Sny die soetrissies middeldeur en rooster dit oor die kole tot die skil swartgeskroei is. Maak dit vir 5 minute in ’n bak toe (of draai dit in koerantpapier toe óf sit dit ’n plastieksak) sodat dit kan stoom. Trek die skilletjies af en sny die heerlik saggeroosterde vleis in repies. Meng die soetrissie saam met die kekerertjies en uie deur die rys.

3. Maak die slaaisous Rooster die komynsaad in ’n droë pannetjie oor die kole tot dit geurig is – hou dit fyn dop sodat dit nie brand nie. Meng die olie, asyn en komyn goed saam, geur die sous na smaak met sout en swartpeper, en gooi dit oor die rysslaai. Meng alles goed deur en sit dit warm óf koud voor.

Weg Ry & Sleep sê
Vir ’n vullender slaai kan jy fetakaas of gebraaide spek byvoeg.