Jy benodig (genoeg vir 8-10)

  • 1 ciabatta
  • 2 eetlepels botter
  • 2 uie, dungesny
  • 1 eetlepel olyfolie
  • 750 g saggemaakte steak (tenderised steak)
  • ¼ koppie chipotle- of pregosous (ons het Checkers se Simple Truth Chipotle Sauce gebruik)
  • 2 koppies gerasperde mozzarella

Só maak jy

1. Sny die ciabatta in die lengte oop en smeer die binnekant met 1 eetlepel botter. As jy matige kole byderhand het, kan jy die gesmeerde kant liggies rooster. Dan is dit reg om gevul te word.

2. Braai die uie in die olie tot glansend, gaar en liggies gekaramelliseer. Skep die uie op die onderkant van die broodjie.

3. Braai die steaks blitsvinnig oor baie warm kole óf in ’n rookwarm gietysterpan. Die buitekant moet goudbruin braai met die binnekant ligpienk – met so ’n dun steak is dit ’n uitdaging! Verf die steak mildelik met die chipotlesous en geur dit met sout en varsgemaalde swartpeper. Laat die vleis vir ’n paar minute rus voordat jy dit in dun repies sny en bo-op die uie skep. Sprinkel die kaas oor en druk die broodjie styf toe met die brooddeksel.

4. Smeer die buitekant van die broodjie met die res van die botter en braai dit in ’n toeknyprooster tot die kaas smelt. Sit dit dadelik voor.

Ry & Sleep sê: As jy nie naby ’n winkel kamp nie, kan jy tuis ’n ciabatta vries en inpak vir so ’n reusebroodjie. Individuele panini’s werk natuurlik ook goed.