Deel

Dieplekker aartappelslaai

akkreditasie
Gee 'n tradisionele aartappelslaai ’n nuwe baadjie.

Vir 6 | Voorbereityd 40 minute plus rustyd

Jy benodig

• 1,5 kg baba-aartappels, met skil
• ’n klein bossie radyse
• 2 selderystingels
• 8 sprietuie
• 5 hardgekookte eiers
• 250 g sterk cheddarkaas, in klein blokkies gesny
• 250 g gerookte spek, bros gebraai en gekap
• ’n groot hand vol gekapte pietersielie
• 4 pikante rissies, gekap
• ¾ teelepel knoffelpoeier
• 2 teelepels sout
•1½ teelepel uiepoeier
• 1½ teelepel gerookte paprika
• ’n knippie rooipeper
• 3 eetlepels Dijon-mosterd
• ½ teelepel swartpeper
• 1 koppie mayonnaise
• 1 koppie Griekse jogurt
• 1 pakkie bros uievlokkies (Woolworths Crispy Onion Sprinkle), opsioneel

Maak so

1. Kook die aartappels in ’n pot water tot gaar maar steeds ferm. Dreineer en laat eenkant om effens af te koel. Sny dit in skywe of kwarte en plaas dit dan in ’n groot slaaibak.

2. Kap solank die radyse, seldery en sprietuie fyn. Skil die hardgekookte eiers en kap dit ook in klein stukkies. Sprinkel dit alles oor die aartappels en volg met die kaasblokkies, gaar gekapte spek, pietersielie en pikante rissies.

3. Meng die res van die bestanddele (behalwe die uievlokkies) baie goed saam en gooi dit oor die aartappels. Proe en sprinkel nog sout na smaak oor. Laat staan die slaai vir ongeveer 30 minute teen kamertemperatuur en sprinkel die uie vlokkies (indien gebruik) oor net voordat jy dit voorsit.