Viskoekies
So maklik!
Viskoekies is net die ding vir ’n vinnige middagete. Jy kan enige geblikte vis (of ’n kombinasie van verskillende soorte) gebruik – ek hou van salm.
Jy benodig
• 1 blik (212 g) salm
• vars vinkel en pietersielie, fyngekap
• sout en peper na smaak
• 2 eiers
• ’n hand vol broodkrummels
• olyfolie
• botter
Só maak jy
1 Dreineer die salm, skep die vis uit die blikkie en druk dit met ’n vurk fyn.
2 Sprinkel die kruie oor, geur die vis met sout en peper en meng alles dan goed deur.
3 Klits die eiers en voeg dit by die vis.
4 Gooi die broodkrummels bietjies-bietjies by totdat die mengsel hanteerbaar is. Moenie te veel gebruik nie.
5 Sit die mengsel vir ongeveer 10 minute in die yskas sodat die krummels kans kry om die vog te absorbeer.
6 Verhit ’n bietjie olie en botter in ’n pan en braai eetlepels vol van die mengsel vir sowat 2 minute aan elke kant.
7 Pak die viskoekies op kombuispapier sodat die vet geabsorbeer kan word en sit dit warm voor saam met ’n slaai.
WegSleep sê: Sardientjies en tuna werk ook goed. En as jy nog van gisteraand se vis oor het, haal die grate uit en voeg dié vleisies ook by jou mengsel.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET