Foto Shelley Christians

Vir 8-10 as voorgereg of snoepie

Voorbereityd 10 minute

Gaarmaaktyd 25 minute

Jy benodig

  • 1 wieletjie camembert
  • 1-2 knoffelhuisies, in dun skyfies gesny
  • ’n paar takkies elk tiemie en oreganum, blaartjies gestroop en fyngekap
  • 1 rol (400 g) bevrore blaardeeg, ontvries
  • 100 g feta, gekrummel
  • ½ koppie parmesaan of beleë cheddar, fyngerasper
  • 1 eier, geklits 
  • heuning en vars vye vir voorsit

 Só maak jy

1 Voorverhit die oond tot 200°C. Steek met ’n skerp mespunt ’n paar gaatjies in die camembert en stop dit met die knoffel en ’n bietjie van die kruie. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en plaas die kaaswiel in die middel.

2 Vou die blaardeeg versigtig op ’n skoon werkoppervlak oop en sny dit met ’n skerp mes oor die breedte in twee helftes. Meng die feta, parmesaan en kruie saam, sprei dit eweredig oor die een deeghelfte uit en druk dit effens vas. Verf die ander deeghelfte met eier en drapeer dit dan – eierkant na onder – bo-op die vulsel.

3 Sny nou die deegstapel in 2 cm breë repe. Tel elke reep aan sy punte op en draai dit in teenoorgestelde rigtings om ’n lang spiraal te vorm. Rangskik die deegspirale in konsentriese sirkels rondom die camembert. Verf die ekstra eier bo-oor en bak vir ongeveer 25 minute of tot goudbruin en gaar. Drup die heuning oor die warm pastei en sit dit saam met vars vye of biltong voor!