Foto's: Myburgh du Plessis. Assistent: Merrill Buckley.

Vir 6 | Voorbereityd 10 minute plus marineertyd | Gaarmaaktyd 10 minute 

Jy benodig

• 1 kg filet

• 2 koppies sterk filterkoffie teen kamertemperatuur

• 3 eetlepels taai bruinsuiker

• 1 eetlepel kakaopoeier

• 1 teelepel gemaalde komyn

• 1 eetlepel gekapte knoffel

• 1 eetlepel rissievlokkies

• olyfolie

• seesout na smaak

• gemaalde swartpeper na smaak

• 2 perskes

• 6 jong preie

• 2 klein koppe blaarslaai

Só maak jy

1. Plaas die filet in ’n Ziploc-sak. Roer die koffie, bruinsuiker, kakao, komyn, knoffel en rissievlokkies saam totdat die suiker opgelos het. Skink die marinade by die filet in die sak en los dit vir minstens 4 uur in die yskas om te marineer.

2. Verwyder die filet uit die marinade en sorg dat dit heeltemal kamertemperatuur bereik voordat jy dit braai.

3. Kry ’n bed kole gereed. Sit die filet direk op die vuurwarm kole en draai dit elke 2 minute ’n aks totdat die hele filet reg rondom geskroei is – ongeveer 10 minute. Lig die vleis van die kole af, bedek dit met ’n stuk foelie en laat dit vir minstens 15 minute rus.

4. Geur die perskes, preie en blaarslaai met sout, swartpeper en olyfolie en skroei dit op ’n rooster oor die kole.

5. Pak die gebraaide perskes en groente saam met die filet op ’n opdienbord en sit dit voor saam met die koolslaai.

WENK: Indien jy die braai-metode hierbo volg, moet jy regte hout gebruik en nie brikette wat met chemikalieë behandel is nie.