
Kosassistent Tani Kirsten
Sawweboud!
Jy benodig
- 1 gerookte varkboud (gammon) van 1,5 kg, ontbeen
- 3 wortels, grofgekap
- 2 selderystele, grofgekap
- 2 uie, geskil en middeldeur gesny
- 4 koppies gemmerbier
- 2 koppies water of aftreksel (gebruik hoender- of groenteaftreksel)
- 5 swartpeperkorrels
Só maak jy
1 Sit die boud in ’n groot kastrol en voeg die wortel, seldery en ui by. Skink die gemmerbier in die pot en gooi dan water of aftreksel by totdat die vleis heeltemal bedek is deur vloeistof. Voeg die peperkorrels by.
2 Verhit die pot tot kookpunt, sit die deksel op (dit moet mooi styf pas) en verlaag die temperatuur tot die vloeistof saggies prut. Kook dit vir 1 uur voordat jy die vleis omtraai, die vloeistof aanvul en dit dan vir nog 1 uur stadig prut.
3 Haal die pot van die hitte af en laat die vleis in die vloeistof afkoel voordat jy dit uithaal. Draai die boud toe in kleefplastiek en bêre dit in die yskas of vrieskas. Gooi die vloeistof weg.
4 Sny die vel met ’n skerp mes af, maar maak seker jy behou die vetlagie. Haal die boud uit die yskas sodat dit kamertemperatuur kan bereik voor jy dit braai.
5 Braai die boud met die vetkant na onder oor matige kole totdat die vleis bruin en bros en deurwarm is. Sny dit in dun skywe en sit dit voor met die bosbessiesous (sien die resep hiernaas).