
Vir 4 | Voorbereityd 15 minute | Gaarmaaktyd 35 minute
Jy benodig
• 3 groterige witwortels (of gewone wortels), in stukke gesny
• 1 koppie botterskorsie, in stukke gesny
• 1 groot aartappel, soetpatat of raap, in stukke gesny
• 1 ui, in stukke gesny
• 2 teelepels garam masala
• 4 eetlepels olyfolie
• 2 lemmetjies (of 1 suurlemoen) se sap en gerasperde skil
• 2 eetlepels botter
• 2 uie, in dun skyfies gesny
• 4 knoffelhuisies, gekap
• 1 eetlepel gemmer, fyngerasper
• 1-2 brandrissies, fyngekap
• 1 teelepel komynsaad
• 1 teelepel kerriepoeier (matig of sterk na smaak)
• 1 teelepel borrie
• 2 koppies natuurlike jogurt
• ½ koppie room
• ’n hand vol koljanderblare, gekap
• ’n hand vol pitlose rosyne
• ’n hand vol amandelvlokkies
• sout na smaak
Só maak jy
1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Plaas die groentestukke in ’n oondbak, meng die garam masala, olie, lemmetjiesap en -skil deur en sprinkel sout na smaak oor. Rooster dit vir sowat 30 minute tot gaar en gekaramelliseer. Jy kan die groente na 15 minute ’n slag deurroer.
2. Maak intussen die kerriesous deur die botter in ’n diep pan te smelt en die uie, knoffel, gemmer, een rissie en speserye oor ’n lae hitte daarin te braai totdat die uie sag en glasig is. Dit behoort sowat 15 minute te neem. Wees versigtig dat die uie nie bruinbraai nie. Proe, en voeg sout en die ander rissie of nog kerriepoeier na smaak by.
3. Verwyder die pan van die hitte en roer die jogurt en room daardeur. Vou nou die warm geroosterde groente deur die sous. Proe, en voeg nog ’n bietjie sout by indien nodig. Sprinkel die koljander, rosyne en amandels bo-oor en sit dit dadelik op rys voor.