Vir 6

Voorbereityd 10 minute

Gaarmaaktyd 2 uur 15 minute

Jy benodig

• 125 g botter, saggemaak

• ¼ koppie karamelsuiker

• ¼ koppie gouestroop

• 1 ekstra-groot eier

• 1¼ koppies bruismeel

• ’n knippie sout

• ½ koppie warm melk

Só maak jy

1 Klits die botter, suiker en stroop saam tot goed gemeng en romerig. Klits dan die eier in.

2 Sif die meel en sout oor die beslag en klits dit by. Voeg die melk laaste by en klits tot net-net glad. Giet die beslag in ’n gesmeerde 1 l-broodpannetjie en vou die pannetjie stewig toe met foelie. Die foelie keer dat die stoom (sien volgende stap) direk met die beslag kontak maak.

3 Plaas die broodpan in ’n kastrol en vul dié met kookwater totdat die broodpan halflyf in die water staan. Plaas die kastrol op ’n stoof-plaat en laat dit sowat 2 uur en 15 minute met ’n styfpassende deksel op prut. (Nadat die water aanvanklik tot kookpunt gekom het, kan die hitte vir die res van die tyd baie laag wees sodat die pot saggies prut. As jy bang is die pot kook droog, kan jy vinnig loer. Maar moet liefs nie te veel van die stoom laat ontsnap nie.)

4 Toets met ’n dun toetspen om seker te maak of die poeding gaar is en laat dit effens afkoel. Keer die poeding versigtig uit die pannetjie en sit dit warm of teen kamertemperatuur voor met karamelsous en vla of roomys (of al drie!).

WENK

Moenie dat die lang gaarmaaktyd jou afskrik nie, hierdie poeding is die wag werd en kan maklik sonder ’n stoof in ’n platboompot oor die kole berei word.

Maklike karamelsous

Vir ¾ koppie sous

Voorbereityd 3 minute

Gaarmaaktyd 4 minute

Jy benodig

• 2 eetlepels sagte botter

• ½ koppie gouestroop

• ½ koppie room

Só maak jy

1 Plaas die botter en stroop in ’n diep, mikrogolfbestande mengbak en mikrogolf dit 3 minute lank op hoog. Loer of die mengsel al ’n diep karamelkleur het. (Mikrogolfoonde verskil – besluit of jy die mengsel vir nog ’n minuut moet kook. Hou net dop dat die karamel nie brand nie.)

2 Roer die room by die karamel en mikrogolf die sous vir nog 1 minuut. Laat die sous effens afkoel voor gebruik.

* Foto: Shelly Christians