1. Steek solank die vuur aan in die ketelbraai, want jy gaan nou-nou kole nodig hê.

2. Sit die picanha met die vetkant na bo op ’n skoon kapplank. Sny met ’n skerp mes ’n geruite patroon in die vet (moenie deursny tot ín die vleis nie). Sny nou in die dik stuk vleis onder die vetlaag ’n gleuf vir die vulsel – sny tot reg agter, want jy wil die vulsel eweredig kan versprei. Geur die holte met sout en peper en stop dit met die tamatie, roomkaas en fyngekapte spek. Steek die holte sorgvuldig toe met tandestokkies.

3. Verhit ’n groot gietysterpan tot lekker warm en seël die vleis tot dit oraloor mooi goudbruin is. Krap die kole na die kante van die braai toe sodat daar plek oop is onder die pan op die rooster vir die indirekte gaarmaakmetode. Hou die steak in die pan en sit die ketelbraai se deksel op.

Rooster die vleis nou vir sowat 20 minute per 500 g vir sappige pienk steak. Onthou, die vleis het ’n driehoekvorm; dus gaan die vleis aan die punt gaarder wees as die dikste stuk – die braaier gaan die gaarmaaktyd mooi moet oordeel. Jy kan ook die vleis in die oond rooster teen 180 ºC.

4. Laat rus die gaar vleis vir sowat tien minute, trek die tandestokkies uit en sny die vleis dan voor – verkieslik met ’n elektriese mes om te keer dat die vulsel uitpeul. Sit dit voor terwyl dit warm is.