Foto Shelley Christians

Vir 4 dekadente porsies

Voorbereityd 30 minute

Gaarmaaktyd 3 uur

Jy benodig

  • 1,2 kg varkblad, ontbeen en in 3 cm-blokke gesny
  • 1 eetlepels bruinsuiker
  • 1 teelepel elk braaisout en gerookte paprika
  • 1 brandrissie, gekap
  • 1 knoffelhuisie, gekap
  • ¼ koppie bruinasyn
  • 1 koppie bier (ek het ’n lager gebruik)
  • ¼ koppie braaisous van jou keuse

Vir die bolaag

  • 2/3 koppies melk
  • 1 eetlepel asyn
  • ½ koppie fyn polenta
  • ½ koppie bruismeel
  • 1 eier
  • 1 opgehoopte eetlepel botter, gesmelt
  • ¼ koppie cheddar, fyngerasper
  • 1 ingelegte jalapeñorissie, gekap (opsioneel)

Só maak jy

1 Voorverhit die oond tot 160 °C. Voeg al die vulselbestanddele behalwe die braaisous in ’n pot en rooster dit vir sowat 2 uur met die deksel op. Skink die braaisous oor die vleis en rooster dit – nou onbedek – vir nog 30 tot 40 minute. Skep die vleis uit die sous en laat dit effens afkoel.

2 Vlok die vleis met twee vurke en skep die oortollige vet van die pansous af. Skep die gevlokte vleis terug in die pansous en geur na smaak met sout en peper.

3 Meng die melk en asyn saam en laat dit ’n minuut lank staan. Klits dan al die oorblywende bolaagbestanddele daarby totdat ’n gladde laag gevorm het. Skep die deeg oor die vleis, verhoog die oondtemperatuur tot 200 °C en bak die pastei oop vir sowat 20 minute of tot gaar en uitgerys. Laat staan vir 10 minute voor jy weglê.