Deel

Grondboontjie-en-karamelvrieskaskoek

akkreditasie
Hierdie moderne cassata is ’n swierige poeding wat jy maklik kan aanpas deur verskillende neute, versuikerde vrugte en beskuitjies te gebruik. As jy nie self die karamelstroop wil maak nie, is ’n blikkie karamel in die haak.
Foto: SADIQAH ASSUR

Dié yskaskoek kan toegedraai in plastiek vir ’n week of twee gevries word tot jy dit wil voorsit.

Vir 10 | Voorbereityd 30 minute | Gaarmaaktyd : 20 minute plus afkoeltyd


Jy benodig 

Vir die kors

• 1 pak (200 g) Romany Creams

• ¼ koppie botter, gesmelt

Vir die karamel

• ¾ koppie suiker

• ¼ koppie water

• 1/3 koppie room 

• 2 eetlepels botter

Vir die vulsel

• 2 l vanieljeroomys

• ½ koppie onversoete grondboontjiebotter

• ½ koppie gesoute grondboontjies, gekap

• ½ koppie gesoute pretzels, gekap

• ½ koppie donkersjokolade, gekap

Só maak jy

1. Spuit ’n 22 cm-losboomkoekpan met kleefwerende kossproei. Pols die koekies in ’n voedselverwerker tot krummels en roer die gesmelte botter daarby. Druk die krummels in ’n eweredige kors op die panbodem vas met ’n lae randjie om wat effens teen die kante opstaan.

2. Roer die suiker en water oor ’n lae hitte in ’n klein potjie totdat die suiker gesmelt het – roer voortdurend. Hou dan op met roer, verhoog die hitte en hou die stroop dop terwyl dit donkerder raak. 

3. Wanneer dit die kleur van gouestroop is, skink jy die room by en verwyder die potjie dadelik van die hitte sodra die stroop begin borrel. Roer dit ordentlik totdat al die room deurgemeng is en voeg dan die botter daarby. Proe, en voeg ’n knippie sout by na smaak. Hou ’n paar skeppies van die karamel eenkant en giet die res oor die kors. Plaas die karamelkors in die vrieskas om te stol.

4. Die roomys moet ’n vir tydjie buite die yskas staan om sag genoeg te raak, maar moenie dat dit heeltemal smelt nie – dit moet die tekstuur van geklopte room behou.

5. Skep 1 koppie roomys uit en meng die grondboontjiebotter deeglik daardeur. Vou die grondboontjiemengsel dan saam met die grondboontjies, pretzels en sjokolade deur die res van die roomys sodat dit mooi “linte” deur die wit roomys trek. Skep dit bo-op die karamelkors, maak die bokant mooi gelyk en plaas dit vir ’n paar uur in die vrieskas tot hard. 

6. Verwyder die pan en versier die roomyskoek met ekstra pretzels, sjokolade en die karamel wat jy eenkant gehou het. Sit dadelik voor.