1. Verhit die botter en olie saam en braai die spek daarin tot bros. Skep dit uit, maar behou die vet in die pot. Braai nou die sampioene tot mooi bruin. Skep die sampioene uit en braai die maalvleis saam met die vleisspesery bruin. Breek die maalvleisklonte deurgaans met ’n spaan sodat dit korrelrig word.
2. Roer nou die knoffel, brandrissie en koekmeel by. Braai dit vir twee minute, skep die spek en sampioene terug in die pot en giet die aftreksel by. Laat dit vir sowat 15 minute prut tot die mengsel lekker geurig en dik is. (Die rede vir die “flou” aftreksel is sodat die gereg nie uitermate sout is nie. Indien verkies, kan jy vir afwisseling die aftreksel met geblikte tamatie vervang.)
3. Voorverhit die oond tot 180 ºC. Geur die kapokaartappel met sout en peper. Skep die vleisvulsel in ’n vuurvaste oondbak, gevolg deur ’n laag kapokaartappels. Stip die bolaag met botter en rasper ’n bietjie neutmuskaat oor. Bak die pastei vir 30 minute of tot die aartappel oraloor mooi bruin puntjies het en die sous langs die kante opborrel.