Foto Shelley Christians

Vir 6

Voorbereityd 20 minute

Gaarmaaktyd 1 uur

Jy benodig

  • 1 eetlepel olyfolie
  • 8 spekrepe, gekap
  • 500 g maer maalvleis
  • 250 g sampioene, gekap
  • 1 ui, gekap
  • 1 wortel, gerasper
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 1 eetlepel meel
  • 1 eetlepel tamatiepasta
  • 1 koppie aftreksel
  • 1 eetlepel worcestersous
  • sout en peper na smaak
  • 500 g gnocchi
  • ’n groot klont botter
  • ¼ k parmesaan, gerasper

Só maak jy

1 Verhit die olyfolie en braai die spek en maalvleis tot geurig en mooi bruin. Breek enige groot korrels maalvleis met ’n houtspaan sodat daar nie groot klonte in die pastei is nie. Roer die sampioene by en braai vir nog ’n minuut of twee. Skep alles uit en braai die ui, wortel en knoffel nou in dieselfde pan tot glansend. Voeg ’n ekstra skeutjie olie by indien nodig.   

2 Roer die vleis deur die groente, gevolg deur die meel. Klits die aftreksel, worcestersous en tamatiepasta by die vulsel, geur na smaak met sout en peper en laat dit 30 minute prut.  

3 Voorverhit die oond tot 200 °C. Skep die pasteivulsel oor in ’n vuurvaste oondbak. Kook die gnocchi in soutwater totdat die happies dryf, en skep dit dan met ’n gaatjieslepel oor in die pan waarin die vleis was. Meng die botter en die helfte van die kaas daar deur.

4 Skep die botterbedekte gnocchi in ’n enkellaag bo-op die vleis, strooi die res van die kaas oor en bak dit vir 20 minute of tot die kaas borrel. Jy kan na oordeel die roosterelement ook inspan as die honger knaag en jy nie 20 minute wil wag nie…