Vir 6 kebabs

Voorbereityd 20 minute, plus 1 uur marineertyd

Gaarmaaktyd sowat 15-20 minute

Jy benodig

  • 4 dik hoenderborsfilette, elk in 6 blokke gesny
  • 10 repe strepiespek (streaky bacon), gehalveer
  • 1 rooiui, in kwarte gesny en in blare gebreek
  • 10 suurlemoen- of lourierblare (opsioneel)

Vir die marinade

  • 3 eetlepels olyfolie
  • 3 eetlepels loperige heuning
  • 1 lemmetjie se sap en gerasperde skil
  • 1 groot gepiekelde jalapeño, fyngekap
  • 2 groot knoffelhuisies, fyngekap
  • ’n ruim knippie sout

Só maak jy

1 Week die sosatiestokkies in water om te keer dat dit later oor die kole vlamvat. Meng al die bestanddele vir die marinade saam, roer die hoenderblokkies deur en laat staan vir 30 minute tot 1 uur. (Omdat die marinade sitrus bevat, is dit nie nodig om langer te laat staan vir die geure om in te trek nie – die surigheid maak die vleis gouer sag.)

2 Draai ’n repie spek om elke hoenderblokkie en ryg dit – afgewissel deur uieblare en suur-lemoenblare – op sosatiestokkies. Moenie die kebabs te dig ryg nie – daar moet spasie vir die hitte wees om reg rondom die vleis uit te kom.

3 Braai die kebabs vir ’n paar minute aan ’n kant oor matige kole. Toets ’n blokkie vleis in die middel om seker te maak dis deurgaar. (Die grootte van die hoenderblokkies en hitte van die kole gaan die gaarmaaktyd bepaal.) Geur na smaak met swartpeper en sit voor met ’n rysslaai vol avokadoblokkies en mieliepitte.