
(Vir ribbetjies of hoendervlerkies)
Vir 4 | Voorbereityd 10 minute | Gaarmaaktyd 2 ½ uur
Jy benodig
• 2 eetlepels olyfolie
• 6 salotte of 2 uie, baie fyngekap
• 6 knoffelhuisies, gerasper
• 6 eetlepels vars gemmer, gerasper
• 1 brandrissie, pitjies verwyder en fyngekap
• ½ koppie hoisinsous
• ¼ koppie heuning
• 2 eetlepels rys- of witwynasyn
• 2 eetlepels sesamolie
• 1 eetlepel mielieblom
• ¼ koppie water
• 700 g varkrib
Só maak jy
1. Verhit die olie in ’n pot en soteer die uie, knoffel, gemmer en rissie daarin vir twee minute.
2. Sit die hoisinsous, heuning, asyn en sesamolie daarby en bring die sous tot kookpunt. Laat dit vir twee minute prut.
3. Los die mielieblom in ’n bietjie water op en roer dit deur die sous. Bring dit weer tot kookpunt en verwyder die pot van die hitte sodra die sous begin verdik. Die marinade is nou gereed en kan verseël in die ys- of vrieskas gehou word tot jy dit benodig.
4. Plaas die rib in ’n groot pot of foeliebak waarin dit plat kan lê. Skink die marinade oor en bedek dig met twee lae foelie.
5. Los die pot vir ongeveer twee uur oor matige kole. (Jy kan dit ook teen 160ºC in die oond bak.)
6. Vul dan weer die kole aan, en sorg dat die rooster skoon en gesmeer is. Haal die rib uit die pot oor op die rooster en braai dit vir sowat 30 minute stadig oor matige kole. Smeer deurentyd nog van die marinade oor en draai gereeld om totdat die ribbetjies taai, bros en gekaramelliseer is.