Deel

Kaas-en-worsmuffins

akkreditasie
Myburgh du Plessis
Dié soutige muffins is propvol wors en kaas en is so te sê ’n mini-maaltyd.

Vir 12 muffins | Voorbereityd 30 minute | Gaarmaaktyd 20 minute

Warm op in die mikrogolf voor jy dit bedien.

Jy benodig

  • 400 g varkworsies
  • 3 koppies meel
  • 4 teelepels bakpoeier
  • 1 teelepel sout
  • ½ teelepel koeksoda
  • 1 koppie murgpampoentjies, gerasper
  • ¾ koppie cheddar, gerasper
  • ¼ koppie stingelui, gekap
  • 1 eetlepel gekapte vars roosmaryn
  • 1 teelepel gerookte rissievlokkies
  • 2 eiers
  • 1 koppie karringmelk of jogurt
  • 4 eetlepels botter, gesmelt

Só maak jy

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en berei ’n standaardgrootte muffinpan vir 1 dosyn (of ’n broodpan van 20 x 10 cm) voor.

2. Braai die varkworsies tot gaar, verwyder uit die vet, trek die vel af en kap die vleis baie fyn.

3. Meng die meel, bakpoeier, sout en koeksoda in ’n groot bak saam.

4. Voeg die worsies, murgpampoentjie, kaas, stingelui, roosmaryn en rissievlokkies by die meelmengsel en meng dit goed deur.

5. Klits die eiers, karringmelk en botter saam. Gooi dit by die meelmengsel en meng alles goed. Krap die deeg uit in die voorbereide pan. Dié muffins rys nie hoog nie – jy kan maar die holtes vol skep. Bak die muffins vir 20 minute (of 30 minute as jy ’n brood bak). Die muffins is deurgebak sodra ’n tandestokkie skoon uitkom.