
Vir 8 | Voorbereityd 15 minute | Gaarmaaktyd 40 minute
Jy benodig
- 2 koppies meel
- ½ koppie suiker
- 3 teelepels bakpoeier
- 1 teelepel kaneel
- ½ teelepel sout
- ¼ teelepel fyn naeltjies
- 1 koppie melk
- 250 g sagte karamel toffies (Wilsons) of fudge
- ½ koppie pekan neute, gekap
- 1 koppie bruinsuiker
- ½ koppie botter
- 2 koppies kookwater
Só maak jy
1. Meng die meel, suiker, bakpoeier, kaneel, sout en naeltjies saam en roer dan die melk daardeur.
2. Krap die helfte van die mengsel in ’n klein swartpot en sprinkel die helfte van die toffies en neute daaroor. Krap die res van die mengsel bo-oor en sprinkel die res van die toffies en neute bo-oor.
3. Meng die bruinsuiker, botter en kookwater met mekaar en gooi die kokende mengsel bo-oor die deeg in die pot, sonder om dit te roer.
4. Plaas die deksel op en plaas die pot op ’n braai driehoek oor matige warm kole en sit ’n paar kole op die deksel. Loer na sowat 40 minute. Die poeding is reg wanneer die poeding die tekstuur van kluitjies het en daar ’n lang karamel-sous in die pot gevorm het. Sit voor met vla of roomys. Die poeding kan ook toe in die oond gebak word teen 180 °C vir 45 minute.