Foto Shelley Christians

Vir 6

Voorbereityd30 minute, plus verkoeltyd

Gaarmaaktyd 40 minute

Jy benodig

  • 4 hoenderborsfilette, in happiegrootte blokkies gesny
  • 2 eetlepels meel
  • sout en peper na smaak
  • 2 eetlepels botter
  • 1 middelslag-ui, gekap
  • 1 groen soetrissie, gekap
  • 15 ml matige kerriepoeier
  • 2 rooiryp tamaties, ontpit en gerasper
  • 45 ml rosyntjies
  • ½ koppie room
  • 6 velle filodeeg
  • 13 koppie botter, gesmelt

Só maak jy

1 Rol die hoenderhappies in die meel en geur dit mildelik met sout en peper. Smelt die botter en braai die hoender tot alkante mooi goudbruin. Voeg die ui, soetrissie en knoffel by die pan en braai dit vir nog ’n paar minute totdat die ui glansend is.

2 Roer enige oorblywende meel saam met die kerriepoeier, tamaties en rosyntjies by die pan in. Voeg die room by en laat dit prut totdat die hoender deurgaar en die sous baie dik is. (Dit behoort nie langer as 5 minute te neem nie.) Laat die vulsel heeltemal afkoel.

3 Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas ’n vel filodeeg op ’n skoon werkoppervlak en verf dit oraloor met gesmelte botter. Skep ’n porsie van die afgekoelde kerrievulsel langwerpig in die middel van die deeg. Maar seker jy los alkant omtrent 3 cm deeg oop. Rol die vulsel styf in die deegvel toe, draai die punte aan weerskante soos ’n Kersklapper s’n toe en tel die deegrol met die naatkant na onder op ’n gesmeerde bakplaat oor. Herhaal met die res van die deegvelle en vulsel.

4 Verf al 6 klappers met botter bak vir ongeveer 25 minute of tot mooi goudbruin en gaar. Jy kan ’n bietjie sesamsaad vir die mooi bo-oor strooi en dit met vars koljander voorsit.