Vir: 6 groot sosaties | Voorbereityd: 20 minute, plus oornag marineertyd | Gaarmaaktyd: 10-15 minute 

Jy benodig

• sowat 1,5 kg lamsboudblokkies

• 16 suurlemoen- of lourierblare

• 16 droëappelkosies

• sout en varsgemaalde swart- peper na smaak

VIR DIE MARINADE

• 1 ui, fyngekap

• 2 eetlepels olyfolie

• 1 eetlepel tandoori masala (of jou gunstelingkerriepoeier)

• 1 teelepel paprika

• 3 knoffelhuisies, gekap

• 2 opgehoopte eetlepels tamatiekonfyt met gemmer

• ½ koppie witwynasyn

Só maak jy

1. Braai die ui vir die marinade in die olyfolie tot glansend. Voeg die speserye en knoffel by en braai tot geurig. Roer die konfyt en asyn by en roer oor matige hitte totdat die konfyt in die sous weggesmelt het. Laat dit afkoel, meng dan die vleisblokkies in ’n glas- of plastiekbak deur die marinade en laat dit oornag in die yskas staan.

2. Ryg die gemarineerde vleisblokkies om die beurt saam met die appelkosies en suurlemoen- of lourierblare op sosatiestokkies.

3. Braai die sosaties oor warm kole tot gaar maar steeds sappig, met net ’n sweempie pienk aan die binnekant. Verf gereeld van die marinade aan terwyl die vleis braai en onthou om sout en peper na smaak oor te strooi.

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook