Deel

Kersie-en-sjokoladepoeding

akkreditasie
Ek het altyd altyd plek vir sjokolade en ’n klein skeppie van dié ryk poeding is gewaarborg om dié lus te stil. Dit vat jou skaars 5 minute om alles bymekaar te sit, maar dit proe na ure se werk.

Vir 6 | Voorbereityd 15 minute plus staantyd | Baktyd 30 minute

Jy benodig

1 blikkie (410g) ingedampte melk of room
1 koppie bruinsuiker 
4 eetlepels donker sjokoladepoeier (Nomu s’n werk goed)
½ koppie botter, in klein blokkies
100 g donkersjokolade, gerasper
3 groot eiers
6 croissants of 12 gekoopte wafels, in stukke (of 9 snye witbrood sonder korsies)
1 blikkie kersies, gedreineer (opsioneel)


Só maak jy

1. Verhit die ingedampte melk, ¾ van die suiker, sjokoladepoeier en botter en roer die mengsel totdat die suiker opgelos het. 

2. Voeg die sjokolade daarby en hou aan roer totdat dit gesmelt het, sonder om die mengsel te laat kook. Verwyder van die hitte.

3. Klits die eiers en meng dit vinnig by die sjokolademengsel in.

4. Gooi die helfte van die croissants in ’n klein potjie of oondvaste bak. Strooi al die kersies daaroor, gevolg deur die res van die croissants en dan al die sous. Druk alles met jou hande of met ’n houtlepel effens plat sodat die vloeistof goed deur die deeg trek.

5. Laat die poeding heeltemal afkoel en los dit oornag in die yskas vir die beste resultate. (Dit kan tot 2 dae in die yskas staan – en is dan nóg lekkerder.)

6. Sprinkel die res van die bruinsuiker bo-oor en bak met ’n paar kole op die deksel (of in ’n warm oond van 180 °C) vir ’n halfuur totdat die bokant krakerig en die middel sag is. Moenie dit te lank bak nie, want die lekker is juis as die binnekant nog plek-plek loperig is.

Wenk
As jy nie iewers donkersjokolade kan opspoor nie, kan jy enige sjokolade gebruik– selfs ’n paar Aero’s sal werk.