Vir 4
Voorbereityd 10 minute
Gaarmaaktyd 10 minute

Hierdie is ’n wenner! Die rissie gee dié dis lekker skop, maar jy kan dit verminder of weglaat as jy dit so verkies.

Jy benodig 

750 g varkfilet
1 teelepel growwe sout
½ teelepel gemaalde swartpeper
2 eetlepels grondboontjieolie
4 knoffelhuisies, fyngedruk
3 cm gemmerwortel, gerasper
½ koppie heuning
¼ koppie srirachasous (of ander rissiesous)
1 lemmetjie se sap

Só maak jy
1. Sny die varkfilet in dun repies en geur dit liggies met sout en swartpeper.

2. Verhit een eetlepel olie in ’n groot, wye pan tot baie warm. Braai die varkrepies in sarsies daarin tot bruin – gaan vinnig te werk en braai net sowat ’n derde van die repies op ’n slag sodat die vleis vinnig bruin braai eerder as om te stoom. Voeg nog ’n bietjie olie by indien nodig. Skep die varkrepies uit en hou eenkant.

3. Verlaag die pan se temperatuur en laat al die ander bestanddele saam prut totdat dit begin borrel en verdik. Verwyder die pan van die hitte en roer die vleis en enige pansappe deur die sous. Sit dit dadelik voor saam met gestoomde rys en broccoli.