Vir: 10 | Voorbereityd: 20 minute plus rystyd | Braaityd: 15 minute 

Jy benodig

• 5 koppies koekmeel

• 2 teelepels sout

• 1 eetlepel suiker

• 1 pakkie kitsgis

• 2 eetlepels olyfolie plus ekstra om die deeg te smeer

• 2 koppies louwarm water

• 1 eier, geklits

VIR DIE VULSEL

• 150 g mozzarella, gerasper

• 150 g cheddar, gerasper

• 100 g sagte botter

• 4 knoffelhuisies, fyngekap

Só maak jy

1. Meng die meel, sout, suiker en kitsgis in ’n mengbak. Meng die olie en louwarm water daarmee en roer of knie dit een keer deur. Gooi dan die geklitste eier daarby en knie die deeg vir 10 minute tot glad en elasties. Smeer die bol deeg met olyfolie, bedek dit losweg met plastiek, en laat staan dit eenkant tot dit dubbel die volume gerys het.

2. Meng die kaas, botter en knoffel.

3. Knie die deeg af en verdeel dit in 10 ewe groot stukke. Vorm ’n bol uit elke stuk en druk die bolle effe plat. Skep van die kaasvulsel in die middel van elke bol. Vou die punte van die deeg na mekaar en knyp dit vas sodat die vulsel aan die binnekant geseël is en nie sal uitloop nie.

4. Pak die gevulde deegbolletjies op ’n broodplank, bedek dit met ’n skoon, klam vadoek en laat dit vir 20 minute rys.

5. Braai die uitgerysde koeke stadig oor louwarm kole aan albei kante totdat die koeke goudbruin en deurgaar is wanneer jy dit oopbreek.