Dis die kaas wat die smaak gee – kies dus ’n sterk, geurige kaas soos gruyère, beleë gouda of cheddar.

Jy benodig

• 200g varkworsies 

• 200g gerasperde aartappel of patat 

• ½ koppie room

• 2 teelepels elk gekapte vars kruie soos tiemie en basilie

• sout na smaak 

• gemaalde swartpeper na smaak 

• 4 eiers

• ½ koppie gerasperde sterk kaas

• ½ koppie fyngekapte spinasie 

• ½ koppie fyngekapte broccoli

Só maak jy

1. Voorverhit die oond tot 170ºC. Voer 2 foeliebakke uit met bakpapier. Die mengsel kan ook in ’n muffinpan gebak word wat met kolwyntjiepapiertjies uitgevoer is.

2. Druk die varkworsies uit die derm en braai die vleis in ’n groot pan tot gaar. Druk die vleis met die lepel fyn terwyl jy dit braai.

3. Voeg die gerasperde aartappel, room en kruie by, verhit en laat prut dit vir 5 minute. Geur die mengsel met sout en swartpeper. Verwyder dit van die hitte en laat dit afkoel.

4. Klits die eiers en meng met die kaas, spinasie en broccoli. Geur dit met sout en swartpeper.

5. Roer die eiermengsel deur die afgekoelde aartappelmengsel. Skep dan dié mengsel in die voorbereide foeliebakke.

6. Bak die pastei vir 60 minute. Laat dit heeltemal afkoel en sny dit met ’n skerp mes in wiggies.