Jy benodig:
* 1,3 kg lamsblad
* klein knoffelhuisie (of na smaak), in repies gesny
* 2 hande vol witbroodmeel, om in die blad te vryf
* sout en swartpeper
* olyfolie
* sap van 1 suurlemoen
* takkie roosmaryn
* baba-uie
* baba-aartappels

Maak so:
1. Dis Grieks. Baie mense hou van knoffel en roosmaryn by die blad, soos die Grieke gemaak het. Druk gaatjies in die vleis met ’n messie en druk die knoffelrepies daarin. Strooi sout en swartpeper na smaak oor en sprinkel die meel oor die blad om dit te bind (die oumense sê dit hou die souse in die blad bymekaar). Vryf die meel in.
2. Gee vet. Gooi ’n bietjie olyfolie in ’n swartpot en sit die blad in die pot. Draai dit ’n paar keer om sodat die olyfolie oral kan vatplek kry. Strooi die sap van ’n suurlemoen oor. Suurlemoen en skaap gaan goed saam. “Dit moet daai surigheidjie hê.” Stroop die blare van die roosmaryntak af en strooi op die blad.
3. Pot toe. Sit die blad ’n uur lank in ’n oop pot in ’n oond teen 200 °C. As jy dit buite op die vuur maak, moet jy die deksel opsit en dit oor stadige kole hou vir twee uur.
4. Op met die deksel. Verlaag die oondtemperatuur na 160 °C en sit die deksel op. Ná 50 minute kan jy die aartappels en uie bysit, sout oorstrooi, die deksel terugsit en die pot terugsit in die oond. Ná ’n halfuur behoort die aartappels en uie sag te wees. Op die oop vuur gaan jy ’n halfuur langer nodig hê. Die blad moet begin sag word voor die groente ingesit word.