
Vir: 6 | Voorbereityd: 10 minute | Gaarmaaktyd: 3 uur
Gebruik wasagtige aartappels wat nie sal wegkook nie. En onthou, as jy groot aartappels gebruik, moet jy dit in stukke sny of reeds aan die begin bysit om deurgaar te kook.
Jy benodig
- 1 knoffelbol
- 2 eetlepels olyfolie
- 2 suurlemoene se sap
- 6 lourierblare
- 2 eetlepels vars oreganumblare
- 6 tamaties, gekap
- 200 g fetakaas
- 4-6 klein lamskenkels
- 1,5 kg baba-aartappels (die Mediterreense soort werk die beste, dit het ’n botterige smaak)
Só maak jy
1. Voorverhit die oond tot 170 °C. Breek die knoffelbol rofweg in stukke en kneus die huisies deur dit met die plat kant van ’n breëlemmes plat te druk.
2. Pak die knoffel en al die ander bestanddele behalwe die aartappels in ’n oondbak. Bedek met foelie of ’n deksel en bak vir 90 minute.
3. Voeg die aartappels nou by, plaas die deksel terug, en bak vir nog 1 uur of totdat die vleis van die been afval. Haal die deksel af en bak die skenkels oop vir nog 30 minute. Garneer met ekstra suurlemoenskyfies en vars oreganum.